Skou gekniehalter maar stop nie Baba-en-Kleuterkompetisie
Soos dit telkens in die vermaaklikheidswêreld gesê word wanneer dinges swaar trek, “The Show Must go on!”, het Medhof Apteek nie eenvoudig teruggesit toe die Thabazimbiskou weens die Covid-19 pandemie gekanselleer moes word nie en die jaarlikse Baba-en-Kleuterkompetisie ook daardeur geraak is.
Medhof Apteek is bekend vir hulle Baba-en-Kleuterkompetisie wat vir etlike jare reeds sinoniem met die Thabazimbiskou is. Medhof het gevoel dat hulle die ouers van Thabazimbi nie die geleentheid kan ontsê om bietjie met hulle kleingoed te spog nie en plan gemaak dat dit wel kan gebeur, net op so ’n bietjie anderse manier.
Aangesien die inperking-regulasies sodanig was dat daar nie van ateljee foto’s gebruik gemaak kon word nie, het Medhof besluit om die kompetisie op sosiale media te loods waar ouers geleentheid gebied is om enige “Pret-Foto’s” van hul kinders in te stuur.
Daar was tien verskillende kategorieë van verskillende ouderdomme met die groter kleuters in hul eie kategorie volgens geslag, asook ’n uiteindelike algehele wenner. Medhof se verskaffers vanaf die voorwêreld was die aangewese onbetrokke beoordelaars wat deur die foto’s gesif het. Medhof bedank hulle dan ook vir die taak wat hulle so gewillig uitgevoer het.
Die uitslag het ook net weereens getoon dat Thabazimbi vir geen ander plek terugstaan as dit by die kosbare kleingoed kom nie.
Buiten die eksterne borge wat baie van die pryse geborg het, het Bibs and Babes asook Limpopo Stationers steeds hulle volgehou steun aan die kompetisie gegee.
Die uitslag van die kompetisie was soos volg (slegs eersteplekke):
3-6 Maande: Seuns en Dogters saam – Wenner: Orategile Madira; 6-12 Maande: Seuns en Dogters saam – Wenner : Rohan Van Wyngaard; 12-24 Maande: Dogters – Wenner: Leamy van der Merwe; 12-24 Maande: Seuns – Wenner: Jurgens Pieterse; 24-36 Maande: Dogters – Wenner: Mi-Anke Balani; 24-36 Maande: Seuns – Wenner: Marnus De Klerk; 36-48 Maande: Dogters – Wenner: Amoré Jordaan; 36-48 Maande: Seuns – Wenner: Duncan Swanepoel; 48-60 Maande: Dogters – Wenner: Kara du Plessis; 48-60 Maande: Seuns – Wenner: Juwan Van Der Merwe.
Al die wenners het geskenkpakkies vanaf Medhof Apteek ontvang en die Algehele Wenner ‘n groot geskenk van verskeie produkte wat deur die onderskeie borge geskenk is.
Aangesien nie al die wennertjies vir die oorhandiging van die geskenkpakkies opgedaag het nie, is die foto’s wat geneem is slegs van die wennertjies wat wel opgedaag het.