Bekende Elandskuil-laagwaterbrug gesluit na insakking
Die Elandskuil-laagwaterbrug oor die Krokodilrivier, wat toegang aan inwoners en oewerboere oos en wes van die Krokodilrivier tussen Thabazimbi en Koedoeskop verleen, is gesluit nadat die rivier oplaas sy tol geëis en ’n groot deel van die anker-gedeelte van die brug aan die een oewer inmekaar gesak het.
Die hoof van Thabazimbi Munisipaliteit se Rampbestuur, Gerrie Visagie, het in ’n gesprek aan Kwêvoël genoem dat die Elandskuilbrug gedurende die vorige groot vloed heelwat skade opgedoen het met wegkalwing van die fondasies van die stutpilare.
Thabazimbi Munisipaliteit het toe by die Waterberg Streeksmunisipaliteit, onder wie se jurisdiksie die betrokke brug val, aansoek gedoen vir dringende onderhoudswerk aan die brug om dit vir verkeer te beveilig.
Waarskuwingsborde word in elk geval opgerig dat die pad gesluit is sodra die rivier oor die laagwaterbrug stroom.
Intussen is die enkelverkeer-brug by Koedoeskop, met ’n nuwe tweerigtingverkeer-brug vervang en alhoewel daar vir die fondse vir die Elandskuil laagwaterbrug begroot is, het die geld in die sisteem verdwyn en is die werk nooit gedoen nie.
Die reën van die afgelope paar weke het blykbaar die fondasies verder uitgekalwe, sodanig dat ’n gedeelte van die brug by een van die oewers inmekaar gesak het.
Die brug word gedurende die droër seisoen hoofsaaklik deur plaaslike inwoners asook pendelaars na die Northam Platinum myn asook na die Jabulani informele nedersetting gebruik.
“Ek het onmiddellik gereageer toe ek die boodskap Donderdag 12 November ontvang het dat ’n gedeelte van die brug inmekaar gesak het,” het Visagie verder genoem. Met sy aankoms op die toneel het hy dadelik voorsorg getref dat geen voertuie en selfs nie eens voetgangers die brug mag gebruik nie.
Die rivier vloei redelik sterk onderdeur die brug en hou ook vir voetgangers die gevaar in dat hulle meegesleur kan word indien daar nog dele van die brug meegee.
Weens die feit dat die brug vir ’n onbepaalde tydperk onveilig verklaar is, moet daar van alternatiewe roetes oor Koedoeskop of vanaf Thabazimbi gebruik gemaak word.
Op die foto kan duidelik gesien word hoë die ryvlak oor die jare heen gesak het en daartoe gelei het dat die ryvlak verbrokkel. Die wegkalwing van die materiaal om die fondasies is duidelik sigbaar Die een gedeelte van die ryvlak wat weens die uitkalwing van die fondamente onder die stutpilare meegegee het en dit uiters gevaarlik maak om oor te steek.
Hooffoto: Die Elandskuil laagwaterbrug oor die Krokodilrivier wat nou vir alle motor- sowel as voetgangerverkeer gesluit is. (Alle foto’s met dank aan TPM: Gerrie Visagie – die foto’s is reeds die afgelope week op die internet beskikbaar – ‘n Foto sê soms ‘n duisend woorde maar Kwêvoël bring vir jou die storie agter die foto)