Ginekoloog beskikbaar by MediClinic Thabazimbi
MediClinic Thabazimbi is toegewyd aan die gemeenskap om ‘n hoë kwaliteit diens te lewer. Daarom het die hospitaal verskeie spesialiteitsgroepe wat op gereelde basis die hospitaal besoek.
’n Besoekende Ginekoloog, dr Eben Venter, sal op ’n twee-weeklikse basis by MediClinic Thabazimbi beskikbaar wees. MediClinic wil dan ook die geleentheid gebruik om vir dr Venter baie welkom te sê by die Spesialiskorps.
Die MediClinic Hospitaal se Algemene Bestuurder, Martjie du Preez, sê dat dr Venter ‘n groot aanwins vir die hospitaal en gemeenskap sal wees. Sy volgende besoek is op 8 Oktober.
Dr Venter is van Pretoria afkomstig waar hy sy voorgraadse studies voltooi en sy verpligte jare in Bloemfontein en Kimberley gedoen het
Hy het daarna sy nagraadse studie deur die Universiteit van Kaapstad gedoen en by Groote Schuur in Ginekologie en Verloskunde gespesialiseer wat hy in 2018 voltooi het. Sy tesis, wat handel oor keisersnitte, het hy met lof geslaag en hy het vir bykans twee jaar in Stellenbosch gepraktiseer voordat hy vanjaar die skuif terug na Pretoria gemaak het.
In gesprek met Kwêvoël het dr Venter genoem dat hy elke aspek van ginekologie geniet en dat hy ook ’n groot belangstelling ontwikkel in laparoskopiese chirurgie, oftewel ‘keyhole surgery’. Gedurende hierdie tyd het hy ook twee verder Europese kwalifikasies hierin verwerf.
Buiten konsultasies vir privaat sowel as mediesefonds-pasiënte, sal dr Venter ook chirurgie asook elektiewe verlossings by die hospitaal doen.
Vir navrae of afsprake kan u hom kontak by reception@drventer-og.co.za.
Nog twee nuwe spesialiste het onlangs by MediClinic se spesialiskorps aangesluit naamlik dr Niemoller (Ortopeed) en dr Tudhope (Vaskulêre chirurg).
Tans besoek verskillende Ortopede en Ginekoloë die hospitaal op ‘n weeklikse basis.
Daar is ook maandeliks besoeke deur ‘n Oftalmoloog, Kliniese sielkundige en ‘n Vaskulêre chirurg asook twee-weeklikse Onkoloog besoeke.
MediClinic Thabazimbi bedank die gemeenskap vir hulle ondersteuning en hulle wil hulle verseker dat MediClinic voortdurend werk aan die diens wat hulle bied.