CommunityFeatured

Voortrekkers deel Sop-in-’n-Bottel projek met gemeenskap

Die Voortrekkers van Ysterberg Veldkornetskap van Thabazimbi het die afgelope tyd hard gewerk aan die Sop-in-’n-Bottelprojek, ’n landswye Diensbaarheid-projek waarby al die Voortrekkers betrokke is om mense in nood by te staan.

Elke offisier, Voortrekker, ouer en jeuglid wat by die projek betrokke was kon uiteindelik die vreugde van hierdie liefdadigheidsprojek ervaar toe die bottels gevul met droë sopmengsels aan verskeie instansies en persone, waar nood in Thabazimbi bestaan, oorhandig kon word. Elke bottel bevat genoeg bestanddele wat, nadat dit in water gekook is, tot agt mense van ’n ete kan verskaf.

Die publiek se belangstelling is ook deur hierdie projek geprikkel en van wyd het skenkings ingekom om die projek van die grond af te kry. Hier wil die Ysterberg Veldkornetskap dan ook in besonder hul dank oordra aan Leonie du Plessis op Nylstroom vir haar bydrae tot die sukses van die projek.

Op Thabazimbi het Hannetjie Minnaar van Huis Immergroen die bottels in ontvangs geneem. Huis Immergroen maak voorsiening vir die versorging van bejaardes wat nog na hulself kan omsien, maar aan wie etes deur die instansie voorsien word.

By die Tambotie versorgingseenheid, waar daar na verswakte bejaardes omgesien word, het Lynette Lewis en haar assistent, Stephina Pooe, die bottels in ontvangs geneem. Beide hierdie instansies maak staat op skenkings om die finansiële las op inwoners te verlig.

Karin Naudé van Ysterberg Veldkornetskap het aan Kwêvoël gesê dat hulle met trots kan sê dat Ysterberg Veldkornetskap die Sop-in-’n-Bottel projek plaaslik suksesvol afgehandel het en dat die kinders geleer het om ’n eenvoudige geskenk te maak om te gee waar hulle die nood raaksien.

Dit was veral die Covid-19 pandemie wat daartoe aanleiding gegee het dat die Voortrekkers landswyd die behoefte onder ons eie mense raakgesien het en daar besluit is om die Sop-in-’n-Bottel as die Wees Diensbaar-projek vir 2020 te loots.

Tydens die geleentheid het die Ysterberg Veldkornetskap ook hul nuwe vaandel met die nuwe Wapen bekend gestel.