AfriForum plant bome landwyd
AfriForum se Thabazimbi-tak het ook hulle deel gedoen as poging van die organisasies se poging om gedurende Septembermaand meer as 2 500 bome landwyd te plant.
Volgens AfriForum se bestuurder vir omgewingsake, Lambert de Klerk, is dié projek deel van ’n poging om die toekoms te verseker vir generasies wat kom.
“Mense oor Suid-Afrika heen vier Boomplantdag op 1 September, maar AfriForum wil die hele Septembermaand aan die aanplant van bome wy.”
Altesaam 140 AfriForum-takke dwarsoor die land gaan poog om in hierdie doelwit te slaag. “In dié onsekere tyd waarin ons leef – veral te midde van die Covid-19 pandemie en die inperking wat daarmee gepaard gaan – is dit belangrik om te weet dat ons die begin van lente en ’n nuwe begin met so ’n projek kan vier. Om vanjaar ’n boom te plant gee vir ons moed vir die toekoms omdat ons plant vir die toekoms. Die boom gaan ’n simbool van oorlewing wees, want oor tien jaar kan jy na die boom kyk en sê: ‘Ons het oorleef.”
AfriForum Thabazimbi-tak het vyf bome aan Laerskool Thabazimbi geskenk en die bome saam met die hoof en die skoliere geplant.
Pieter Lampbrecht, voorsitter van AfriForum se Thabazimbi-tak, het tydens die geleentheid gesê dat AfriForum dit doen om ’n verskil te maak.
“Die doel van hierdie projek is om die omgewing te verbeter vir toekomstige generasies,” het Lampbrecht toegevoeg.
“Bome het egter deurlopende sorg nodig om te floreer en die Thabazimbi tak onderneem om hierdie bome te versorg,” sê Magdel Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.

Die gemeenskap word uitgenooi om by die AfriForum-tak in Thabazimbi betrokke te raak deur hul naam per SMS na 45340 te stuur (koste beloop R1).