CommunityFeatured

Jarelange inwoner oorlede na vier jaar se versorging

’n Jarelange inwoner van Thabazimbi, Shirley Lotheringen, is gedurende die vroeë oggendure van Maandagoggend 14 September 2020 oorlede nadat sy vir die afgelope vier jaar in ’n tehuis in Pretoria as gevolg van Alzheimers versorg is.

Sy was die eggenote van Daan Lotheringen wat vir etlike jare, tot sy aftrede uit die onderwys as Afrikaanse onderwyser en Adjunk-hoof, aan Hoërskool Frikkie Meyer verbonde was.

Shirley is op 28 Oktober 1936 in Greylingstad gebore en het haar hoërskoolloopbaan aan die destydse Potchefstroom Handelskool voltooi. Nadat sy haar matriek gemaak het, het sy by Whites, die destydse sementmyn op Lichtenburg, gaan werk. Dit is ook hier op Lichtenburg waar sy haar man ontmoet het.

Die twee het op 9 Januarie 1960 op Lichtenburg in die huwelik getree. Vier kinders naamlik Durette, Cobus, Francois en Hannelie is uit die huwelik gebore.

2020 14 Sept Shirly oorlede
Shirley Lotheringen (83) wat Maandag 14 September oorlede is.

Sedertdien het Shirley vir verskeie prokureursfirmas op verskeie dorpe gewerk, afhangend van die dorpe waarheen Daan as onderwyser verplaas is. Al die kinders het hul laer- sowel as hoërskoolloopbane in Rustenburg voltooi waar Daan vise-hoof van Rustenburg Ou Hoërskool was.
Op Rustenburg het Shirley vir 18 jaar vir Van Velden-Duffey Prokureurs gewerk. Nadat Daan ’n oorplasing na Hoërskool Frikkie Meyer aanvaar het en hulle na Thabazimbi verhuis het, het sy ook vir ongeveer 18 jaar vir JF van Graan en Van der Wateren Prokureurs tot haar aftrede op 65 jaar gewerk.

Tien jaar na haar aftrede het hulle na Pretoria verhuis en hulle het by hul dogter Hannelie en skoonseun Frik Erasmus gaan woon. Shirley se toestand het egter sodanig versleg dat sy vir die afgelope vier jaar in die Princess Christian Home in Brooklyn Pretoria opgeneem en versorg is. Twee jaar nadat sy opgeneem is, het sy ’n groot terugslag gehad na ’n beroerte.

Shirley was altyd bemind en bekend vir haar vriendelike en liefdevolle geaardheid asook haar hartlike lag. Ten spyte van haar klein postuur was sy ’n vuurvreter en ’n bok vir sport wanneer sy saam met die kleinkinders by foefie slides en waterglybane afgegaan het.

Haar dogter, Hannelie Erasmus, het aan Kwêvoël genoem dat haar afsterwe ’n groot verlies vir die gesin en familie is, maar dat hulle terselfdertyd besef dat dit die beste vir haar was.
“Sy het die afgelope twee jaar baie swaar gekry en dit was vir ons as kinders vreeslik om haar so te sien agteruitgaan. Ons sal vir altyd Shirley onthou as die sprankelende en liefdevolle eggenoot, moeder, ouma en suster wat ons lewens verryk het.”

Shirley word oorleef deur haar man Daan, vier kinders, nege kleinkinders en een agterkleinkind.

’n Gedenkdiens word Maandag 21 September om 11:00 vanuit die NG Kerk Stellastraat Waterkloof, Pretoria vir Shirley gehou. Die diens sal deur ds Anton Pienaar waargeneem word. ’n Privaat verassing sal later plaasvind.

Hooffoto: Daan en Shirley, heel regs, saam met hulle kinders.