CommunityFeatured

Thaba verloor een van sy oudste dogters

Hannatjie (Scheepers) Malan, tweede oudste dogter van tannie Anna en wyle ds. Scheepers, in lewe emeritus predikant van die Gereformeerde Kerk Thabazimbi, is Woensdag 26 Augustus oorlede nadat sy die vorige week in die Rosepark Hospitaal in Bloemfontein opgeneem nadat twee breingewasse reeds voorheen by haar gediagnoseer is.

Haar man, ds Neels Malan, leraar van die Gereformeerde Kerk Bethulie, het op 21 Augustus laat weet dat die gewasse drukking op haar brein veroorsaak en tot gevolg gehad het dat sy haar spraak en vermoë om te beweeg verloor het.

Weens die Covid-19 pandemie is sy in die Covid-19 afdeling van die hospitaal opgeneem aangesien sy met opname positief vir die virus getoets is.

Hannatjie is op 21 Julie 1947 in Potchefstroom gebore terwyl ds Giep sy studies aan die Gereformeerde Teologiese skool afgehandel het. Sy was ongeveer vier jaar oud toe haar pa gedurende die vroeë 1950’s die beroep na die Matlabas-Thabazimbi kombinasie aanvaar het.

Hannatjie het haar laer- sowel as hoërskoolloopbaan op Thabazimbi voltooi en in 1964 haar matriek aan Hoërskool Frikkie Meyer verwerf. By HFM het sy haarself onderskeie op die atletiekveld met hoogspring en was sy ook ’n kranige korfbalspeler.

Hierna het sy haar as onderwyser aan die PUK op Potchefstroom bekwaam met Bybelkunde as hoofvak. Toe sy haar Honneurs in Bybelkunde doen, moes sy ook Grieks en Hebreeus saam met die eerste teologiese studente klasloop.

Hier het sy reeds vir Neels leer ken en hy het uiteindelik met haar vriendin, ook Hannatjie, in die huwelik getree.

Hannatjie het haar loopbaan as onderwyseres begin, maar dit is gekortwiek toe sy ’n gewas op haar stembande gekry het en die dokter haar aanbeveel het om eerder ’n werk te kry waar sy nie nodig het om baie te praat nie. Sy is toe by die biblioteek van die onderwysdepartement in Kaapstad aangestel en gedurende dié tyd het sy haar graad in biblioteekwese by die Universiteit van Stellenbosch verwerf.

Sy en haar man het na Bredasdorp verhuis en na sy afsterwe het Hannatjie by haar suster, Jacomien, op Potgietersrus gaan bly waar sy werk by die plaaslike Landdroskantoor gekry het.

Gedurende 2011 het sy met ds Neels Malan in die huwelik getree terwyl hy predikant op Kriel was. Daarvandaan het ds Neels die beroep na Bethulie aanvaar waar hulle tot op hede die gemeente bedien.

Die begrafnis vind plaas om 10:00 op Vrydag 4 September tydens ’n teraardebestelling in die Thabazimbi begraafplaas. ’n Gedenkdiens sal in Bethulie gehou word.

Hannatjie word oorleef deur haar eggenoot, Neels, haar seun Gideon en sy vrou Lucinda en kleinseun Mathew sowel as haar ma, tannie Anna Scheepers van Thabazimbi, broers en susters.