Augustusmaand – Jou tuin het jou nou nodig
Met die eerste Augustuswinde wat waai is daar seker niks wat mens so kan opbeur soos die wete dat lente op pad is en dat die deur binnekort agter winter, met al sy blare en vaalheid, gaan toeslaan.
Moenie dat Covid-19 jou keer nie – Jou tuin het jou koestering en liefde nou dringend nodig op die herstelpad na sy volle somerglorie.
Augustus bied jou die kans vir ’n lieflike Somertuin met die eerste tekens van reën met bewolkte weer wat vanaf die weste oor die land begin inbeweeg het. Reën word oor sekere gedeeltes van die land voorspel wat die hoop laat opvlam van ’n goeie reënseisoen vir die somerreënvalstreek.
Betree die ‘Post Covid-19’ Inperking met ’n mooi tuin
Tuinmaak in Suid-Afrika is ’n stokperdjie wat jou nie alleen ure van genot verseker om heerlik in jou tuin te ontspan nie, maar dit bied ook die beloning op jou handewerk waarin jy jouself kan verlustig. Gebruik dit om op ’n veilige manier om die lastige laaste dae van die Covid-19 Inperking van jou af te skud.
Hier in die bosveld, met sy windlose en warm winterdae, het ons ’n byna onbeperkte keuse van blomme, kruie, vrugtebome en groente om van te kies om in ons tuine te plant, mits jy die ryp wat in laagliggende gedeeltes voorkom in ag neem en die talle insekplae, wat ook in hierdie warmer gedeeltes aanwesig is, kan bestry.
Een manier is om nie plante wat gevoelig vir ryp is in tuine waar ryp voorkom te plant nie en om ook eerder plante te plant wat nie insekte lok nie, of plante wat die goeie insekte lok wat ander insekplae, soos luise, help bestry.
Afrikanertjies was die een blomsoort wat jy altyd in my ma se tuin aangetref het. Net soos sy geglo het, glo ek ook dat dit insekte wat die blomme vreet en verskeie ander peste weghou. Die laaste paar maande wat ek gedurende my ballingskap uit die bosveld aan die Suid-kus spandeer het, het ek besef watter groot rol die einste Afrikanertjies in die godsdienstige rituele van die Indiërs speel, seker maar om dieselfde rede hoekom my ma dit in haar tuin gehad het.
Die Bosveld se tipe grond verskil van streek tot streek maar maak in die algemeen voorsiening dat ’n ryke verskeidenheid van plante in elke streek geplant kan word.
’n Ander beperking wat ons hier in die bosveld het, is die feit dat jy nie op reën soos in KwaZulu-Natal of Mpumalanga kan staatmaak om jou tuin te benat nie. Daarvoor is daar ook ’n oplossing naamlik om ’n water-suinige-tuin te ontwerp.
Augustus in die bosveld word anders beleef as die winter-tydperk in die winterreënval gebiede van die land waar dit soggens steeds donker, koud en nat is. Daarvan kan ek deeglik getuig uit my ondervinding in ballingskap hierdie tyd van die jaar in die Wes-Kaap.
Een bonus daar was die veldblomme aan die Kaapse Weskus, waaroor jy ook meer op ons tuisblad onder die hoof ‘Travel’ kan lees. Hierdie blommeprag is te sien gedurende Augustus en September. Teen volgende jaar hierdie tyd behoort binnelandse vlugte min of meer op skedule te wees om jou die lang ure op die pad te spaar.
Vlieg eerder Kaapstad toe, huur daar ’n voertuig en ry die sowat 100km teen die Weskus op tot by Langebaan vir ’n ondervinding wat jy nie maklik sal vergeet nie. Dit kos minder en is minder uitputtend as die lang pad vanaf die binneland om Namakwaland se blomme te besigtig.
Met lente wat duidelik reeds aan die kom is met warmer lentebriesies in die vroeë oggend en die soet geur van jasmyn in die lug, voel mens sommer geïnspireer om jou tuin reg te kry vir sy lentebaadjie.
Nou is die tyd om van die lastige onkruid ontslae te raak voordat die saadjies wat hulle dra ryp kan word. Dit geld ook vir die voegstukkies in jou steen-plaveisel asook die krakies in die beton, al moet jy dit met ’n rondeblaar onkruiddoder bespuit. Dit is dalk goedkoper om net kookwater oor hierdie onkruid te gooi en die wortels te verwyder.
Die volgende is om die grond solank voor te berei vir die nuwe groeiseisoen deur die oppervlak met kompos te bedek. Moenie dadelik hierdie kompos in die grond inspit nie anders stimuleer jy die groei van onkruid en moet jy die skoonmaakproses weer van vooraf aanvat.
Indien jy oor die luukse van ’n grasperk beskik, is dit nou die tyd om van die droë mat en ranke ontslae te raak deur die grasperk redelik kort te sny. In baie gedeeltes van die bosveld, veral tuine in die dorp, wat nie ryp kry en regdeur die winter met genoegsame son en water lowergroen is, is hierdie drastiese behandeling nie nodig nie.
Spit gate in die grasperk om water en lug toegang na die wortels te bied en voed die grasperk met ’n gepaste kunsmis soos deur die verskaffers aanbeveel. Jy hoef nie elke jaar ’n topbedekking te gee nie, maar ’n ligte bedekking stimuleer groei en vul ook die ongelyke gedeeltes in jou grasperk.
Hierdie is veral van toepassing op rank-grasperke soos Kikuyu en van die sterker Cynodon tipe gras. Dit is nie van toepassing op aangeplante grasse soos Evergreen en Shade Over nie.
Augustus maand is ook jou laaste kans om jou rose te snoei. Bind dit vas teen hulle stutpale maar moet hulle nie verwurg nie. Gebruik ’n vorm-8 knoop om die stutpaal wat dit toelaat om vrylik te beweeg en steeds die Augustus-winde kan weerstaan.
Augustus is ook die begin van nuwe lewe in die tuin na die koue. Alle blare wat doodgeryp het, moet verwyder word maar nie voordat jy seker is dat daar nie meer ryp sal voorkom nie anders het die nuwe groeisels geen beskutting nie.
Vir jare verwyder ek nie meer al die dooie blare op wat van die witstinkhout en rooibosbome in my tuin afval nie. Daar is eenvoudig te veel. Hark dit bymekaar en gooi in die beddings. Buiten dat dit vogverlies bekamp, vorm dit ook ’n natuurlike laag van kompos voor die eerste reën kom.
Voeg kunsmatige voeding, hoog in kalium, in jou beddings met die bolplante om te verseker dat die plante wat reeds geblom het se bolle goed oorleef aangesien dit die groei van die nuwe embrio-plantjies binne die bol bevorder. Moenie die blare wat besig is om dood te gaan afsny nie aangesien hulle steeds hierdie nuwe embrio’s voed.
Verdeel groot bolle en herplant hulle met kompos en ’n handvol 3:1:5 kunsmis voeding.
Soos die weer warmer word, snoei jou fuchsias met ’n derde terug, voeg kompos by en voed met ’n kunsmis hoog in stikstof om nuwe groei aan te moedig.
Plant al jou potplante oor in ’n volgende grootte houer.
Alle groeipunte van aangeplante blom-plantjies met twee blare kan afgeknyp word om ’n groter bos-voorkoms aan die plante te verleen. Probeer dit met jou petunias en jy sal verbaas wees oor die resultate.
Dit is ook nou die tyd om krismisrose terug te snoei. Voeg sowat 25gm aluminium sulfaat op die wortelgedeeltes, gee genoeg water en jy sal met die blouste blomme beloon word.
Jou perske, appelkoos, pruim, nartjie en ander sitrusse sal ook nou in blom gaan. Voed hulle met 3:1:5 van sowat 100g vir jong bome en 200g vir die groter bome. Gee ’n dosis Engelse Sout vir sitrusbome, waarvan die blare geel word, saam met die gewone voeding.
Voer ook jou papajas, granadillas, vye, mango’s en aarbeie met 3:1:5 growwe kunsmis.
Saai nou reeds jou groenbone wat jy afwissel met twee rye wortels. Beet en radyse kan teen die einde van Augustus aangeplant word. Pampoen groei ook goed maar wees versigtig vir kewers en ander insekte.
Praat gerus met jou handelaar en lees op die pakkies hoe, wanneer en waar jy groentesoorte kan aanplant.
Sover dit blomme aan betref is dit nie te laat om petunias, begonias, krisante, viooltjies, gesiggies en primulas plantjies by jou kwekery te kry om te plant nie. Jy sal steeds met ’n pragtige kleurvolle somertuin begroet word.
Onthou jou gesiggies en viooltjies verkies gedeeltelike skaduwee. Leeubekkies is steeds beskikbaar by kwekerye en is ’n goeie vuller vir daardie spasies wat die winter in jou tuin gelos het.
Dit is dalk bietjie laat vir Namakwalandse daisies maar vul jou tuin nou reeds met alle soorte daisies en geniet die kleure op jou tuin-palet. Daar niks so mooi soos bokbaai-vygies in jou ander vol-son gedeeltes nie.
Kyk om jou rond en beplan volgende jaar se somertuin nou reeds. Aalwyne is seker een van ons mooiste inheemse vetplante wat jou jaar na jaar gedurende Augustus met hul blommeprag sal verlei, veral as jy ’n water-suinige tuin beplan.
Vuurpyle is geskik vir winter en somer met die een variant wat in die winter blom en die ander wat gedurende die somer sy rooi pyle uitsteek. Plant hulle bolle betyds en sorg vir hierdie blomprag wat regdeur die jaar vir jou plesier gaan gee.