Vlak-3 vanaf 1 Junie: Ontsluiting van ekonomie te stadig – VF Plus
“Die ontsluiting van Suid-Afrika se ekonomie vind te stadig plaas om ernstige langtermyn-skade te voorkom, veral gesien in die lig van die feit dat president Cyril Ramaphosa Sondagaand opnuut bevestig het dat die inperking sy doel gedien het,” sê die leier van die Vryheids Front Plus, Pieter Groenewald.
Dit is na aanleiding van president Ramaphosa se aankondiging dat die inperking na Vlak-3 op 1 Junie afgeskaal gaan word.
Sake-ondernemings kon lank reeds met die korrekte gesondheidsprotokolle in plek in bedryf getree het. Vir baie kleiner ondernemings is dit reeds te laat en die effek daarvan sal ʼn swaar las plaas op die land se reeds sukkelende ekonomie en sy groot werkloosheidsprobleem.
Talle ondernemings sal dit boonop moeilik vind om die gesondheidsprotokolle in plek te plaas weens die koste daaraan verbonde en die omvangryke voorwaardes daarvan.
Die VF Plus is bekommerd oor die feit dat talle irrasionele maatreëls steeds in plek is, soos die verbod op sigaretverkope, asook die dreigement dat daar selfs terugbeweeg kan word na Vlak Vyf in sekere gebiede afhangende van infeksiekoerse.
Die VF Plus sal om hierdie redes voortgaan met sy saak om die geldigheid van die Rampbestuurswet en irrasionele inperkingsmaatreëls in ʼn hof te laat toets. Baie van die maatreëls is volgens die VF Plus nie wettig nie aangesien dit ernstige inbreuk maak op mense se regte.
Faktore soos die sentralisering van besluitneming oor die verlengde ramptoestand, ʼn gebrek aan konsultasie en die oorsigrol van die parlement, is onaanvaarbaar aangesien die toekomsimplikasies van die staat se eensydige optrede enorm is vir die ekonomie en vir alle landsburgers.
Die graderingsagentskap Standard & Poor’s het onlangs bevestig hoe swak die land se ekonomiese welsyn reeds voor die pandemie was deur die land se skuldgradering te bevestig op sub-beleggingstandaard.
Suid-Afrika se ekonomie kan nie ʼn uitgerekte en omvattende staat van inperking bekostig nie en die regering sloer te lank om dit te ontsluit.
Wat president Ramaphosa se aankondigings soos dié van Sondagaand aanbetref, is dit belangrik om daarop te let dat dit geen amptelike status dra nie soos reeds gesien is in sy aankondiging oor tabakprodukte wat later omgekeer is.
Regulasies is eers amptelik wanneer die minister van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede (Nkosazana Dlamini-Zuma) dit in die Staatskoerant laat publiseer.
Dit is daarom belangrik om seker te maak presies wat die nuwe regulasies behels voordat op verdere optrede besluit kan word.