EditorialHealth

Hoekom werk Lockdown nie vir Afrika?

Met paniekaankope was toiletpapier boaan die publiek se lysie van noodsaaklike items wat hulle hul voor die lockdown moes aanskaf.

Die paniek was hoog en mense het die rakke leeggemaak, self daaroor vuis geslaan.
Nadat die paniek oor is, het praatjies met sielkundiges laat bleik dat dit maar die menslike natuur is om verkeerde besluite te neem as hy skielik die keuse moet maak waarsonder hy nie kan klaarkom nie.

Toiletpapier gebruik jy elke dag, dit is goedkoop (jy het nou genoeg geld) en supermark rakke is volgepak. Kan jy daarsonder? Die antwoord is natuurlik nee!
Dit wil al lyk asof dieselfde paniek die Afrika regerings getref het toe hulle moes aanskou en hoor hoe die Covid-19 siekte onder die ouer mense bokant 60 maai met die meeste sterftes. Die stryd om beheer van die land plaas die meeste Afrika regeerders en hul raadgewers in daardie spesifieke ouderdomskategorie.
Paniek besluite? – Pieter Coetzee: Redakteur

’n Verslag wat kort voor die inperking van Suid-Afrikaanse burgers aangekondig is, gepubliseer is, het reeds daarop gewys dat die impak van die COVID-19 pandemie hoogs waarskynlik verskillend in Afrika as in die res van die wêreld ervaar sal word.
Sien plasing in Kwêvoël 28 Maart 2020 onder die hoof ‘Gesondheid’ – “COVID-19 is ’n Groot Bedreiging vir Afrika”.

Hierdie verslag deur die Boston Consulting Group, getitel Fighting COVID-19 in Africa Will Be Different, wys daarop dat die gemiddelde jong ouderdom van Afrika se inwoners waarskynlik in sy guns sal tel aangesien die tendens regoor die res van die wêreld aantoon dat meer sterftes onder die ouer mense voorkom.

In Afrika veroorsaak voedseltekorte wanvoeding, veral onder kinders waar een ete per dag eerder die norm as die uitsondering is. Beperkte mediese fasiliteite in die meeste Afrika-lande, tesame met heersende kroniese siektes soos HIV, tuberkulose en diabetes wat die immuunstelsel van lyers verswak gaan ’n negatiewe invloed op Covid-19 uitoefen.

Die siek en arm mense, waar wanvoeding algemeen voorkom en die immuunstelsels reeds verswak is, maak hierdie mense die mees vatbaarste vir die siekte en sal dit hulle eerder tref as die ouer mense, veral dié wat onder beter omstandighede lewe, beter toegang tot mediese fasiliteit het en higiënies beter daaraan toe is.

President Cyril Ramaphosa het vinnig ’n besluit geneem en drie dae voordat dit van krag geword het, die algehele “Lockdown” aangekondig.

Dieselfde besluit is relatief vinnig oor groot gedeeltes van Afrika toegepas deur regerings wat hoofsaaklik op die bevinding gereageer het dat die meeste sterftes in die ouderdomsgroep 60 jaar en ouer voorkom en die verspreiding wou verhoed.

Hierdie is dus ook die groep wat gehospitaliseer moet word indien hulle siek sou raak. Goeie gesondheidsdienste is redelik skaars op die Afrika-kontinent en min hospitale beskik oor intensiewe eenhede met die nodige apparaat om die erge gevalle doeltreffend te hanteer.

Lockdown werk nie vir Afrika nie

’n Artikel wat op 8 April in Mail&Guardian gepubliseer is konsentreer juis op hierdie “andersheid” van hoe COVID-19 in Afrika ervaar word en sluit aan by hoe dit deur die res van die wêreld ervaar is, naamlik dat die meeste sterftes onder die ouer mense voorkom.

Professor Alex Broadbent, skrywer van hierdie artikel, is direkteur van die Instituut vir die Toekoms van Kennis (Institute for the Future of Knowledge) asook professor in filosofie aan die Universiteit van Johannesburg. Hy spesialiseer ook in vooruitskattings, toevallige interaksie en verduidelikings. Sy boeke sluit in Philosophy of Epidemiology en Philosophy of Medicine.

In die artikel noem hy dat ouderdom die grootste risikofaktor vir ernstig, kritiek of noodlottig van Covid-19 is. Sterfgevalle van mense wat die siekte opdoen in die kategorie 10-30 jaar is 0,2% en jonger as 10 is 0,0%. Die Lancet skat sterfgevalle onder siek mense jonger as 60 op 0,32% en vir 60 en ouer as 6,4%, wat ’n groot persentasie toename is.

In Afrika sterf die “gemiddelde man” voordat hy die ouderdom van 60 bereik en slegs 3% van die bevolking is ouer as 65. Die gemiddelde ouderdom van die Afrika bevolking is 18 terwyl dit 42 is vir Europa. Afrika se bevolking is verreweg die jongste bevolking van alle kontinente.

Mens kan dan die vraag afvra hoekom die Afrika nasies, Suid-Afrika inkluis, soveel rede het om Covid-19 te vrees juis hier waar die bevolking se gemiddelde ouderdom so laag is.

Lae respiratoriese lugpyp infeksie, veroorsaak deur bakterieë of ’n virus, is die grootste oorsaak van sterftes op die kontinent. Hy sê dat Covid-19 die risiko mag vergroot, maar dit is so minimaal dat dit eintlik skaars bestaan en nie vergelykbaar is met die hongersnood wat deur ’n resessie veroorsaak word nie.

Hy vra dan ook die vraag of ons bekommerd moet wees oor hierdie verhoogde risiko van noodlottige longontsteking wat Covid-19 in Afrika kan veroorsaak, as dit nie ook die risiko grootliks verhoog van sterftes te wyte aan longonsteking onder eerste ministers, sakemanne en universiteit professore, insluitend in die lande waar aansteeklike siektes en die aaklige werklikheid daarvan veronderstel is om net histories van aard te wees nie?

Hy maan mense om hulle nie net dood te staar teen die feit dat Covid-19 baie sterftes veroorsaak nie. Die mees gevaarlikste siekte in menseheugenis is malaria, wat deur die gebruik van eenvoudige muskietnette grootliks verhoed kan word. In ontwikkelde lande is daar byna geen sterftes tydens geboorte nie en baie min kinders sterf weens longontsteking. Maar volgens Unicef, sterf sowat vyf miljoen kinders in ontwikkelende lande elke jaar aan longontsteking, malaria en weens komplikasies tydens geboorte.

Kortliks: Ons is nie bekommerd oor Covid-19 omdat baie mense daarvan gaan sterf nie, maar oor wie gaan sterf.

Ten spyte van die opvallende verskillende koste voordeel vir die Afrika streek, doen ons presies dieselfde ding hier as orals anders, of probeer dit so doen: Ons perk in (lockdown).

Broadbent vra dan ook die vraag of daar ’n alternatief is vir “lockdown”? Hy antwoord self hierop deur te sê: “Lockdown in areas waar dit sin maak, soos waar die ouer bevolking gevestig is, maar moenie poog om dit te doen waar dit totaal onmoontlik is om uit te voer nie. Streeks-kwarantyn, waar gemeenskappe ver uitmekaar gevestig is, is meer effektief in Afrika.”

Die voordele van afperking van hoë risiko gemeenskappe verdien ook groter oorweging.

In Afrika, net soos in talle ander ontwikkelende gebiede, is die tendens dat die verstedelike ouer-garde geneig is om terug na die plattelandse gebiede te verhuis. In die plattelandse dorpies sal dit makliker wees om die oumense van die jonges te skei as wat tans die geval is in die townships of plakkerkampe waar lockdown net ’n ergernis is.

Broadbent sluit sy artikel af deur Afrika leiers en spesifiek die in Suid-Afrika aan te beveel om raadgewers te kry wat wakker is en bewus is van die verskille tussen Afrika en die ander plekke waar lockdown afgedwing word, en wat bereid sal wees om die implikasies van alle maatreëls wat getref kan word, duidelik uit te spel – nie net alleen dat Covid-19 sterftes veroorsaak nie.