HFM se Akademie bly op die Wenpad!
Die Klas van 2019 het weereens bewys dat die akademie van Hoërskool Frikkie Meyer van uitstaande gehalte is. Die Akademie bly die kernbesigheid van Hoërskool Frikkie Meyer en die skool bly steeds een van die toonaangewende skole in Limpopo en Suid-Afrika.
Die skool wens elke matrikulant, ouer en/of voog, asook elke onderwyser, geluk met hul bydrae om die prestasies moontlik te maak.
Drie leerlinge behaal die prestasie om elk sewe onderskeidings agter hul name te skryf. Hulle is: Teswell Cloete, Miné Lategan en Hugo van Niekerk.
Hoërskool Frikkie Meyer is een van vier Waterberg-Streek skole wat uitgenooi is na die Provinsiale Toekenningsgeleentheid op 8 Januarie 2020 wat in Polokwane aangebied is. Miné Lategan, die hoofdogter van 2019, is slegs een van vier leerlinge van Waterberg wat na hierdie spoggeleentheid uitgenooi is.
Die uiteensetting van die Graad 12 slaagpersentasie van 2019 is as volg:
Nasionale slaagsyfer: 81.30%, Limpopo Provinsie slaagsyfer: 73.20%, Waterberg Distrik slaagsyfer: 81.40%, Voormalige Model-C Hoërskole: 95.03%, Thabazimbi/Dwaalboom Kringe: 68,60% en dan: Hoërskool Frikkie Meyer met die hoogste slaagpersentasie van 98.64%.
Die uitstekende slaagsyfer van 98.64% word ondersteun deur 96 leerlinge ( 65.75% ) met Universiteitstoelating, 44 leerlinge ( 30.13% ) met toegang tot Diplomastudies en ses leerlinge ( 4.10% ) met toegang tot Sertifikaat-studies.
Die volgende simbole is behaal:
A – Simbole: 156; B – Simbole: 162; C Simbole: 150 en D Simbole: 202.
Verder behaal HFM 100% slaagsyfer in die volgende vakke:
Afrikaans Huis- en Eerste Addisionele Taal, English Home and First Additional Language, Wiskunde, Wiskunde Geletterdheid, Tegniese Wetenskap, Lewenswetenskappe, Lewensoriëntering, Inligtingstegnologie, Rekenaartoepassings Tegnologie, Elektriese Tegnologie, Geskiedenis, Gasvryheidstudies, Siviele Tegnologie asook Visuele Kuns en Toerisme.
Uitstekende Vakgemiddeldes is behaal met ondermeer Toerisme (70.76%) wat die hoogste gemiddeld was.
As in ag geneem word dat Hoërskool Frikkie Meyer een van min skole is wat 24 vakke by die skool aanbied, is dit skitterend dat in 17 uit hierdie 24 vakke slaag leerlinge met 100% en behaal die skool ook ’n 100% Slaagsyfer vir Inklusiewe leerders.
Individuele prestasies is as volg:
7 A-simbole: Teswell Cloete, Miné Lategan en Hugo van Niekerk.
5 A-simbole: Elize-Marie Coetzee, Lara du Plessis, Debbie Kuhn en Tacia van Wyk.
4 A-simbole: Charlize van Niekerk, Daneel Jacobs, Tjaart Pelser, Dirco Slabbert en Sumarie Schutte.
3 A-simbole: 7, 2 A-simbole: 16 en 1 A-simbool: 42.
Die vakke met die meeste Vakonderskeidings is:
English First Additional Language: 20, Afrikaans Huis Taal: 15, Lewenswetenskappe: 11, Toerisme: 9, Wiskundige Geletterdheid: 6 en Fisiese Wetenskap: 4.
Hoërskool Frikkie Meyer is tydens die Provinsiale Toekennings-geleentheid ook aangewys as een van die top skole met betrekking tot die persentasie van leerlinge wat Universiteitstoelating ontvang het.
Tydens hierdie geleentheid is Miné Lategan van Hoërskool Frikkie Meyer as die beste leerling in die Provinsie vir Afrikaans: Huistaal met ’n gemiddeld van 92% aangewys. Miné was ook onder die top 30 Akademiese leerlinge in die provinsie. Daarby het sy ook 100% vir Lewensoriëntering behaal.
Die Waterberg-Streek Toekennings word op 17 Januarie 2020 aangebied. Tydens hierdie geleentheid word leerkragte en skole ook vereer ten opsigte van prestasies.
As mens kyk na die arms vol trofeë wat Hoërskool Frikkie Meyer verlede jaar huis toe gebring het, word hulle alle sukses toegewens en sal hulle beslis nie met leë hande terugkeer nie.
Die hoof van Hoërskool Frikkie Meyer, mnr Colin Campbell, het daarop gewys dat alhoewel Matriekuitslae nie die norm is met betrekking tot akademiese welslae van ‘n skool nie, is dit tog ‘n maatstaf om vergelykings te tref. “Hoërskool Frikkie Meyer bly steeds een van die beste akademiese instellings in die provinsie en in die land met ‘n akademiese Graad 12 slaagsyfer-gemiddeld van 99.16 die afgelope vyf jaar.”
Campbell bedank dan ook al die onderwysers wat saam met die ouers en leerlinge verantwoordelik is vir hierdie prestasie.
Kyk mens na die prestasie van die voormalige Oud Model-C skole in die provinsie is dit opmerklik dat die meeste van hierdie skole slaagpersentasies van hoër as 97% toon.
Die spesifieke skole het dan ook soos volg presteer:
Hoërskool Ellisras het die hoogste slaagpersentasie gehad met 99,2%, gevolg deur Hoërskool Warmbad (99,1%), Noordland (98,7%), HFM (98,6%), Pietersburg (98,1%), Merensky (97,7%), Louis Trichardt (96,9%), Ben Viljoen (96,8%), Ben Vorster (95,0%), Hans Strydom (94,0%), Nylstroom (91,9%), Piet Potgieter (91,7%) en Tom Naudé (77,8%).
Die Hoërskole in die Thabazimbi- Dwaalboom-Onderwyskring het die helfte van die skole hoër slaagpersentasies getoon as Limpopo gemiddeld van 73,2% met HFM die hoogste van 98,64%, gevolg deur Thekganang (92,56%), Groenvlei (90,24%), Naletsana (75,00%), Northern Comprehensive (68,08), Mabogopedi High (66,66%) en Itireleng Secondary (21,42%).