Wyk 2 Thabazimbi: Beroep op kiesers om te stem op 27 November
Die DA Voorsitter van die DA Federale Raad, Helen Zille, het tydens die bekendmaking van die DA kandidaat vir die Tussenverkiesing in Wyk 2 Thabazimbi, ’n beroep op DA ondersteuners gedoen om seker te maak dat hulle hul stem uitbring.
Die DA kandidaat vir die tussenverkiesing is ’n ou bekende in Thabazimbi, Tokkie Swanepoel. Tokkie is sedert 2012 voorsitter van die Thabazimbi Belastingbetalers Vereniging en het oor die jare baie ondervinding saam met die DA in Thabazimbi opgedoen om dienste probleme in die dorp uit te stryk asook om na inwoners se klagtes oor waterlekke en ander dienste om te sien en aan die munisipaliteit te rapporteer.
“Inwoners is onder die indruk is dat die DA in Thabazimbi aan bewind is, dit is egter nie die ware toedrag van sake nie aangesien besluitneming deur die Uitvoerende Raad, waarop die DA geen sitting het nie, gedoen word.”- Helen Zille – Voorsitter van die Federale Raad van die DA.


Koalisies – Die pad vorentoe vir Suid-Afrika
“Koalisies met minderheidspartye is die pad vorentoe vir Suid-Afrika, gewens of ongewens, dis dié realiteit van die Suid-Afrikaanse politieke toneel wat Suid-Afrikaners moet aanvaar”, volgens Helen Zille toe sy DA ondersteuners toegespreek het tydens die bekendstellings funksie van Tokkie Swanepoel as DA kandidaat vir die komende tussenverkiesing in Wyk 2 Thabazimbi.
Sy het by voorbaat vir Tokkie gewaarsku dat hierdie ’n moeilike setel is en dat sy alles in haar vermoë sal moet doen om die knoop deur te haak.
Sy het gesê dat die populariteit van die ANC aan die kwyn is waar dit vanaf 70% nou gedaal het tot op 57%. Enige politieke party met minder as 50% steun in Thabazimbi kan nie as ’n koalisie regeer sonder om ondersteuning vanuit die ander TRA (Thabazimbi Residents Association), die VF Plus, die DA en die EFF te kry nie.
Tans is die DA die bindende faktor tussen die ver-regse en ver-linkse party in die raad. Hierdie, het sy gesê is een van die moeilikste koalisies om te maak werk. Boonop moet mens ook duidelik verstaan hoe koalisies in die praktyk werk.
Zille het ook daarop gewys dat Thabazimbi oor ’n uitvoerende raad beskik en nie ’n uitvoerende burgemeester soos toe die ANC die Raad oorheers het nie.
Die DA het nie ’n verteenwoordiger op die uitvoerende raad nie. Die samestelling van hierdie uitvoerende raad bemoeilik die situasie vir die DA aangesien inwoners onder die indruk is dat die DA aan bewind is, dit terwyl die DA geen stem op die Uitvoerende Raad het nie.
Die werklike situasie is dat die Uitvoerende Raad, waar die ANC twee verteenwoordigers (party met die meeste stemme in die Raad), die EFF een verteenwoordiger (Party met die 3e meeste stemme gedurende die 2016 verkiesing) en die TRA met een verteenwoordiger (Burgemeester) verteenwoordig is, die uiteindelike besluite goedkeur.
Die DA, as party met die 2de meeste stemme gedurende die 2016 verkiesing, het die Speaker posisie en is nie verteenwoordig op die Uitvoerende komitee nie.
Zille het na Kaapstad verwys as die eerste koalisie op plaaslike regeringsvlak. Die DA was daar ook in die posisie dat hy moes regeer met die ver regse element aan die een kant en aan die anderkant die ver linkse element. Drie jaar daarna het die DA die algehele meerderheid behaal.
Haar raad is om goed te regeer om te bewys dat die DA wel die verskil maak en daarop voort te bou.
Tydens die 2016 plaaslike verkiesing het die DA daarin geslaag om koalisie regerings by Port Elizabeth, Pretoria, Johannesburg, Die Vaaldriehoek, Thabazimbi en Modimole daar te stel.
Jacques Smalle, Limpopo se Provinsiale DA leier het verder genoem dat die meeste van hierdie munisipaliteite was vir alle doeleindes bankrot en moes die DA in die geval van beide Thabazimbi en Modimole in leë kantore sonder meubels, rekenaars en drukker instap toe die ANC uiteindelik die kantore ontruim het. Lêers is op hope gegooi en moes maniere gevind word om data op rekenaars te kry aangesien rekenings uitgestuur moes word. Daarbý is daar beslag op al die munisipale voertuie gelê en is die dorpe gelaat met ongelooflike skuldlaste teenoor Eskom vir krag asook aan Magalies Water. Skuld wat eenvoudig nie deur die ANC oorbetaal is nie, maar waar die geld in gate verdwyn het waarvoor hulle nie verantwoording kon doen nie.
Zille het gesê dat om ’n koalisieregering te laat werk ’n moeilike proses is met baie lesse om te leer. Sy is tans juis besig om ’n beleidsdokument saam te stel wat gebruik kan word om aan die kieser te toon dat die DA op die regte spoor is om die rigting in koalisies aan te dui.
Die DA het alleenlik die sukses bereik deur voortdurende oorreding van die verskillende partye betrokke. As die DA beter kon doen tydens die verkiesing, sou daar wel DA verteenwoordiging op hierdie raad gewees het en sou die DA in ’n beter uitvoerende posisie wees. Juis om hierdie rede is hierdie tussenverkiesing een van die belangrikste tussenverkiesings vir die DA.
’n Sterk beroep is dan ook op DA ondersteuners gedoen om op te trek na die stembus op 27 November om hul kruisies te trek.
Die koalisie regering sukkel om inwoners se verwagtinge te vervul aangesien daar soveel party is wat hulle belange eerste wil stel. Daarbý kan korrupsie binne kleiner vennote die koalisie laat sink. Om ’n koalisie te laat werk benodig die party toegewyde verteenwoordigers met sterk leierseienskappe wat insette kan lewer ter bevordering van die totale gemeenskap en nie net eie belange wil nastreef nie.
’n Nuwe waardestel tree in waar daar nie op kleur gekonsentreer kan word nie. Minderheidspartye wat op ras staatmaak sal steeds verder krimp het sy gesê.
Bring jou stem uit op grond van waardes binne die duidelike waardelyne wat gestel word. Dit kan geloofwaardigheid by die kieser wek as hy sien dat die party homself binne hierdie waardelyne hou.
Sy het verder gewys op wat die voorafgaande week in die Wes-Kaap tydens ’n tussenverkiesing gebeur het in ’n wyk wat deur die DA beheer is.
Patricia de Lille, het met haar nuwe party as kandidaat in die tussenverkiesing gaan staan. Kleiner partye is geneig om met waardes wat nog nie vas gesetel is nie, die stempubliek te oortuig dat hulle ’n beter opsie kan bied as die party wat die kiesafdeling huidig hou.
Dit is dan ook presies wat gebeur het. Inplaas daarvan dat stemme van die ANC afgerokkel is, het die DA die stemme verloor aan De Lille se Good Party en daarmee het dié party dan ook veroorsaak dat die ANC die verkiesing in die wyk gewen het.
Partye in ’n koalisie moet oor die grense heen saamstaan om korrupsie die uitklophou te gee. Die DA is die enigste party, het sy gesê, wat verantwoordelikheid verstaan en toepas.
Zille het verder daarop gewys dat enige demokrasie daartoe lei dat leierskap voortdurend verander met elke verkiesing waar die wil van die kieser die deurslag gee. Hierdie besef is juis dit wat die DA anders as die ander partye maak. Die party moet inherent sterk wees om besluite te neem en daarby staan en hiervoor moet die party oor sterk strukture beskik.
Sy het ook gesê dat as jy ongelukkig is met die DA, jy moet besef dat daar geen ander party is wat na jou probleme as kieser luister nie.
“Tokkie was nog altyd bereid om na die inwoners se klagtes te luister en iets daaromtrent te doen”, daarom ag sy, Zille, niemand beter as Tokkie Swanepoel om as kandidaat vir Wyk 2 te staan nie.
Die DA wys die weg aan vir die toekoms en dit is daarom noodsaaklik om saam te staan vir vryheid van spraak, vryheid van assosiasie en vryheid van godsdiens.
Sy het haar toespraak afgesluit deur te sê: “Beskerm ander mense se regte sodat joune ook beskerm kan word.”