Lollos, Jou Slim Ding! by die KunsteGrot
Die nuutste produksie van Lollos, Lollos Jou Slim Ding!, is Donderdag 17 Oktober op die planke by die KunsteGrot op Thabazimbi.
Met hierdie nuwe produksie word Lollos se wenresep voortgesit en Lollos, Lettie, Disco en Marli betree die verhoog om kindergehore te oorrompel met ’n ontploffing van energie en opwinding.
Die produksie is uit beginsel ’n opvoedkundige vertoning en dit sorg vir voortdurende interaksie met die gehoor asook vrolike danspassies wat vir eindelose vermaak en lekkerkry sorg.
Die vertoning is gebou om tien gewilde Lollostreffers en die lessies wat geleer word strek van persoonlike higiëne en gesonde lewe tot goeie maniere en respek vir ander en die omgewing. Dit word uitgedra met liedjies soos Eet Gesond, Tandeborsel, Veiligheidsgordel, Oppaktyd, Die Vriendelike Dokter en Babbelbekkie.
Die kinders se aandag word gehou met die aanleer van eenvoudige danspassies wat naderhand soos ’n speletjie word.
Die konsep van positiewe selfbevestiging word ook uitgedra deur die tema dat die kinders se karakter te bou deurdat hulle in hulself kan sê: “Ek is ’n slim ding.”
Die vertoning is gepas vir kleuterskool en laerskoolkinders. Die basiese manier waarop lessies aangebied word maak dit baie toeganklik vir die heel kleintjies terwyl die interaktiewe uitdagings die ouer kinders se aandag steeds vashou.
Die vertoning begin om 17:30 maar maak voorsiening om vroegtydig op te daag met die deure wat reeds om 17:00 oopmaak.
Kaartjies teen R85 per persoon kan vooraf bespreek word by Rita Tel 083 744 8559. Rita is ook Dinsdag en Woensdag vanaf 12:30 by die KunsteGrot waar jy dan ook kaartjies kan koop.
