Entertainment

Brandewyn en Melktert sorg vir ’n lekker konsert

’n Melktertjie en ’n glasie sjerrie het Saterdagaand by die KunsteGrot teatergangers ingewag wat opgedaag het vir Jannie Moolman en Blackie Swart se Melktert en Brandewyn konsert.

Sommer met die intrapslag het Blackie Swart met ’n lekker voetejeuk boereorkesnommertjie weggeval en gewys dat hy beslis onder een van die beste kitaarspelers in die land sy merk gemaak het.

Die mense van Waterberg Stereo was ook daar om die vertoning te geniet. Hulle is agter: Kobus en Elsie en voor: James en Anina Breedt en hul dogter, Yolandi. Kobus is die stasiebestuurder en James bied soggens om 9:00 ’n aktualiteitsprogram aan.

Die twee manne het gesorg vir ’n lekker gesellige kuieraand met staaltjies en storietjies uit die Afrikaanse skatkis. Met elke tafel wat hulle piekniekmandjies uitgepak het en so gesellig saam die vertoning geniet het, het mens nogal baie terug laat dink aan die Koffiehuis-konserte wat ook op Thabazimbi gedurende die 60-tiger jare aangebied is. Vermaak was nie van die uitstaande gehalte soos wat die KunsteGrot bied nie, maar die samesyn van die inwoners met kunstenaars uit eie geledere was dieselfde.

Met Melktert en Brandewyn het die twee dan ook gewys dat Blackie Swart meer as net Liewe Lulu en Jannie Moolman beslis meer as net Nessum Dorma is. Hulle het wyd getoer en het ook ’n paar liedjies, selfs vanuit die Voëlvry Toer van die sogenaamde alternatiewe Afrikaanse sangers soos Johannes Kerkorrel en Koos Kombuis, gaan haal asook Lucas Maree se miljoen wat deur inflasie opgeslurp is. Nog ’n groot liefling is Koos du Plessis wat die liefde vir ons mooi Afrikaanse taal duidelik na vore gebring het.

Hulde is ook gebring aan die digter Antjie Krog en liedjieskrywers soos Stef Kruger wat die vermoë het om gedigte en musiek die taal te laat praat.
Jannie het gewys dat “O Boereplaas” en “Al lê die Berge nog so blou”, steeds hul regmatige plek in die FAK Sangbundel volstaan.
Verder het, het hulle met “Jannie kom Squeez my” en ’n besondere verwerking van Koos Kombuis se Liza se Klavier wat met Beethoven se Maanlig Sonate begin het ook deel van die aand se liedjielys uitgemaak.

Hulle het ook nie net by Afrikaans gebly nie, maar Dire Straits en Engelbert Humperdink het ook ’n beurt gehad.

Die KunsteGrot verdien weereens ’n groot pluimpie met hul keuse van gehalte kunstenaars wat daar optree.

Diegene wat dit misgeloop het, sal maar verlief daarmee moet neem, hulle gaan beslis nie ’n tweede kans kry nie. Sorg dus dat jy nie Nana Mouskouri, alias Helene Bester, se uitstekende kabaret oor hierdie wêreldbefaamde sangeres misloop nie.

Nooi julle familie en vriende van die voorwêreld om te kom kuier en sommer die vertoning te kom geniet. In die stad gaan hulle nie die moeite doen nie. Lok hulle na die Bosveld met die gasvryheid waarvoor ons inwoners bekend is en geniet ’n talentvolle aand met julle piekniekmandjies in die KunsteGrot.

Dit beloof ook om ’n skouspel duisend te wees. Bespreek nou solank jou kaartjie vir 30 November 2019.