Drie van die agt verdagtes wat verdink word van die ontvoering en moord op Anisha (30) en Joey (32) van Niekerk van Mooinooi, is borgtog Donderdag in die Brits Landdroshof toegestaan. Die ander vyf se borgtog is geweier.
Die staatsaanklaer, Christine Molautsi, het by die aanvang van die hofverrigtinge gesê dat die uitslae van die DNS-toetse ontvang is op beendere wat weke na die Van Niekerk egpaar se verdwyning gevind is, is ontvang.
Die woordvoerder van die polisie in Noordwes, Ao. Mpeile Talane, het later buite die hof bevestig dat die DNS-toetse ontvang is, maar het gesê dat hy nie in die stadium bekendmaak aan wie die beendere behoort nie aangesien hulle steeds met hulle ondersoek besig is.
Maroela Media berig dat die borgaansoeke, wat sedert 18 Januarie sporadies voorgekom het, as ’n skedule 6-misdryf aangehoor is wat beteken dat die beskuldigdes moes bewys dit is in die belang van geregtigheid en dat daar buitengewone omstandighede bestaan hoekom hulle borgtog toegestaan moet word.
Oor beskuldigde no 1 (die Mosambiekse man) het Landdros Semakuleng Thamage gesê hoewel die beskuldigde drie minderjarige kinders het en sy meisie swanger is, kan nie as buitengewone omstandighede geag word nie. Die beskuldigde het vroeër aangedui dat hy onskuldig gaan pleit en dat hy nie die identiteite van die staatsgetuies ken nie. Sy borgtogaansoek is geweier.
Oor beskuldigde no 2 (die sogenaamde baasbrein) het Thamage getuienis wat tydens die hofverrigtinge gelewer is herhaal, ondermeer dat die man R40 000 per maand verdien deur motors te koop en te verkoop en dat hy beweer dat hy drie eiendomme besit wat nog nie op sy naam geregistreer is nie omdat “die prokureurs nog besig is met die oordrag”. Die staat het egter volgehou dat all drie die eiendomme volgens munisipale rekord in ’n Paul van Niekerk se naam geregistreer is.
Hoewel die verdagte onderneem het dat hy nie probleme sal veroorsaak nie indien hy op borgtog vrygelaat word nie en dat hy aan ’n kroniese siekte ly, is sy borgtog geweier.
Beskuldigde no 3 (die 18-jarige Mosambiekse man en broer van beskuldigde no 1) het aangedui dat hy wel ’n Suid-Afrikaanse burger is en dat hy nie weet wat met sy geboortesertifikaat gebeur het nie aangesien hy sy ma gevra het om sy sertifikaat vir hom te bring.
Hy was volgens die staat een van die beskuldigdes wat die slagoffers losgemaak het van waar hulle gehang het, hulle verkrag en weer gehang het.
Beskuldigde no 4 (die 36-jarige man) se borgtogaansoek is ook geweier aangesien ‘n vorige oortreding van huisbraak teen hom aanhangig gemaak is. Hy het tydens die borgtogaansoek aangedui dat hy onskuldig gaan pleit tydens die verhoor, dat hy die pa van twee kinders is en dat hy aan MIV ly en nie die nodige behandeling in die tronk hiervoor sal ontvang nie. Die redes het egter nie vir Thamage oorreed om borgtog aan hom toe te staan nie.
Beskuldigde no 5 (die 33-jarige man) is nie getroud nie, maar is die biologiese pa van vyf kinders. Hoewel hy geen vorige oortredings teen hom het nie en ook van voorneme is om tydens die verhoor onskuldig te pleit, het sy borgtogaansoek ook misluk.
Beskuldigde no 6 (die baasbrein se seun) het die oorledenes geken maar beweer dat hy geensins by die misdaad betrokke was nie. Borgtog van R10 000 is aan hom toegestaan. beskuldigde no 6 se vriendin (die 18-jarige meisie) is ook op borgtog van R10 000 vrygelaat.
Die agtste beskuldigde (die 21-jarige vrou van die vermeende baasbrein) is borgtog van R20 000 toegestaan.
Die borgtog van die drie beskuldigdes is toegestaan op voorwaarde dat hulle Maandae en Vrydae tussen 06:00 en 18:00 by die Rustenburg-polisiekantoor moet aanmeld, dat hulle nie Brits en/of Rustenburg mag verlaat sonder die ondersoekbeampte se toestemming nie en dat hulle nie plot 171 Buffelsfontein, waar die misdrywe na bewering gepleeg is, mag besoek nie.
Die hof het ook gehoor dat een van die staatsgetuies in die saak in ’n getuiebeskermingsprogram geplaas is.
Vorige berigte oor Joey en Alisha van Niekerk kan op Maroela Media gelees word.

