EditorialFeatured

Maar die boeke moet klop: Als in beteken als moet uit!

Volgens ‘n geskrewe verklaring wat die DA ontvang het na aanleiding van hulle brief aan die Voorsitter van die Staande Komitee op Openbare Rekeninge, Snowy Kennedy, om verslag te lewer oor die R70 miljoen wat deur drie Limpopo departemente net aan reis en onthaal toelaes tussen April 2016 en Maart 2017 spandeer is, is dit duidelik dat dié drie departemente skuldig daaraan is dat hulle openlik die belastingbetalers se geld gemors het.

Volgens die DA het die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling Omgewingsbewaring en Toerisme R34 miljoen aan reiskoste en R1,8 miljoen aan onthale bestee. Kort op hulle hake is die Departement van Gesondheid wat R32 miljoen aan reiskoste en R5 miljoen aan onthale en die Departement van Veiligheid, Sekuriteit en Onderhandeling wat R8 miljoen aan reiskoste en R1,4 miljoen aan onthale spandeer het.

Volgens die DA is dit duidelik dat hierdie verkwisting georkestreer is om op te maak vir die onderspandering vir die finansiële jaar deur ‘n fiskale storting van geld, wat nie spandeer is op dit waarvoor dit begroot is nie, in ander kostesentrums.
Dit is duidelik gedoen net sodat die boeke kan klop sover dit die algehele begroting aan betref, sonder in agneming van hoe dit spandeer is.

Die DA glo dat hierdie uitspattige en skaamtelose verkwisting van geld onmiddellik ondersoek moet word, veral as in ag geneem word dat Limpopo die afgelope nege jaar die meeste armoede van al die provinsies ervaar.

Hulle sê verder dat die ANC regering in Limpopo die opdrag van die Nasionale tesourie aan die departemente en openbare sektore, om die gordels bietjie stywer te trek en onnodige vermorsing van fondse te verhoed, duidelik geïgnoreer het.

‘n Beroep is ook op Kennedy gedoen om hierdie uitspattige besteding te ondersoek en te verseker dat al die amptenare wat hierby betrokke was, aanspreeklik hiervoor gehou sal word.