Oorname van Tumela myn: Nuwe geleentheid vir Northam Platinum
Met die toestemming wat Northam Platinum verkry het om ‘n gedeelte van Anglo American se Amandelbult mynregte te koop, bied dit geleentheid om sy strategie om produksiekoste te verminder verder toe te pas.
Northam Platinum gaan R1 miljard betaal vir die aangrensende Tumela myn op Amandelbult wat aan die noordwestelike grens van sy Zondereinde eiendom in die Thabazimbi distrik geleë is.
Alhoewel Zondereinde se platinum produksie vir die jaar eindigend Junie merkbaar laer was, het die Booysendal Noord myn produksie opgestoot met 236%, wat die totale produksie met 8,5% opgestoot het tot 474 007 onse.
Vir dieselfde tydperk het die groep se inkomste met 12,6% tot ‘n rekord van R6,9 miljard gestyg. Die koste van verkope het met 9,4% gestyg tot R6,3 miljard met ‘n toename in produksiekoste van 13,4%, hoofsaaklik as gevolg van die verhoging in produksie by Booysendal asook hoër arbeid- en krag-uitgawes.
Produksiewins, aangeblaas deur ‘n beter prys vir die platinum-groep metale (PGMs), het met 60% tot R614 miljoen gestyg wat hulle met ‘n positiewe kontant balans van R1,8 miljard aan die einde van hul finansiële jaar gelaat het.
Kapitale uitgawe het met 40% opgeskiet tot R1,6 miljard met die uitbreiding van projekte te Booysendal en Zondereinde, insluitend die ontwikkeling van Booysendal Suid, verdere sinking in die myn en die addisionele nuwe smelter en droër by die bestaande Zondereinde smelter kompleks.
Buiten die aanwins van Anglo American Platinum eiendom, is Northam Platinum steeds in die proses om die Eland Platinum myn van Glencore vir die bedrag van R175 miljoen te verkry. Daarby het dit ook ‘n platinum-groep metale herwinning-aanleg in Pennsylvania in die Verenigde State van A-1 Specialised Services vir die bedrag van $10,1 miljoen aangekoop.
Ongeag die feit dat Northam se aandele Vrydag 25 Augustus met 4,3% ot R45.80 gestyg het, is daar besluit om nie vanjaar dividende te betaal nie. Dit is vanweë die moeilike omstandighede in die mynbedryf en omdat hy fondse benodig om die projekte, reeds in die pyplyn, te finansier.
Photo top (August 2016): Construction underway and on target, installing Northam Platinum’s new PGM furnace at its Zondereinde smelter operation in Thabazimbi, South Africa. Handover of the fully operational 20 MW furnace is due for August 2017.