Ou dame dalk uit slaap wakker gemaak
Thabazimbi Kumba Ysterertsmyn, die ou dame wat haar deure gedurende September 2016 nadat die myn vir 80 jaar in bedryf was moes sluit en talle werknemers afgedank is, kry dalk ‘n nuwe kans dat daar dalk weer gemyn gaan word.
Reuters berig dat ‘n ooreenkoms met ArcelorMittal Suid-Afrika (AMSA) bereik is nadat Kumba en sy filiaal, Sishen Iron Ore Company, wat 76% aandele besit, die myn teen die prys van R1 aan ArcelorMittal SA oorgedra het. Sover dit rehabilitasie aan betref, beteken dit dat AMSA, wat tot voor hierdie ooreenkoms in elk geval 96% verantwoordelik daarvoor was, nou die volle aanspreeklikheid dra.
Wim de Klerk, Hoof uitvoerende bestuurder van ArcelorMittal, sê dat sy maatskappy oorweeg die heropening van die myn om sy bronne van ystererts aan te vul. Thabazimbimyn het voor sy sluiting uitsluitlik ystererts aan ArcelorMittal gelewer.
Die oordrag van die myn is steeds onderhewig aan bepalende voorwaardes soos vervat in Seksie 11 verandering in beheer permit van die Departement van Minerale Hulpbronne en ‘n AMSA omsigtigheidsondersoek en mededingings toestemming vrywaring. AMSA sal ook 63 Kumba werkers in diens neem wat tans betrokke is by die rehabilitasie van die myn.
“Die oordrag van die Thabazimbimyn na AMSA is bewys van Kumba se volgehoue ondersteuning tot voordeel van die plaaslike begunstigdes,” het Themba Mkhwanazi, Hoof Uitvoerende bestuurder van Kumba gesê. Daar kan self wyer voordele hieraan verbonde wees.
Kumba het die afgelope 12 maande vinnige transformasie ondergaan wat ingesluit het die herontwerp van die Sishen-myn sodat die myn meer koste-effektief bedryf kon word, veral met inagneming van die laer prys van ystererts.
Alhoewel 4 000 werkgeleenthede daarmee heen is, het dit Kumba in staat gestel om van sy skuldlas ontslae te raak, en met die bydraende faktor van ‘n beter prys vir ystererts, het dit hoogs mededingend in die kapitale mark geword.
In vergelyking met die haglike posisie van ‘n jaar gelede, het Kumba hierdeur grootliks van sy riskante beeld ontslae geraak.