Twee sterf in afsonderlike voorvalle op Northam

crime-scene-tape-3

NORTHAM – Sedert Sondag is twee mans in afsonderlike aanvalle op Northam dood in wat skynbaar vakbond verwante aanvalle was.

In die eerste geval is die 45- jarige Mthethleli Zefunele, by die taxi optel punt in die rigting van Thabazimbi by die 4-rigting stopstraat in Northam, op slag dood toe ’n man wat agter hom in die ry gestaan het, ’n vuurwapen teen sy nek gedruk het en die sneller getrek het. Die voorval het omstreeks die middag om 15:20 plaasgevind. Zefunele is op slag gedood.

Die aanvaller het hom uit die voete gemaak en in die righting van die Mall verdwyn. Teen die tyd wat die SAPD op die toneel gekom het, het die man reeds tussen die massa mense verdwyn of is dalk deur ’n medepligtige van die toneel verwyder.

Zefunele was ’n lid van die Vakbond NUM en werksaam by Northam Platinum Myn.

In die ander voorval Maandag 6 Junie, by die kruising oor die treinspoor na Northam Platinum Myn, het sowat 300 lede van NUM en AMCO met mekaar slaags geraak. Die Polisie het met rubber koeëls op die twee strydende faksies losgebrand om hulle uiteen te jaag. Tydens hierdie voorval is twee privaat voertuie ook aan die brand gesteek.

Nog ‘n NUM vakbondlid is ook die dag met ’n assegaai doodgesteek. Sy naam sal bekend gemaak word sodra sy familie in kennis gestel is.

Volgens Kolonel Ronel Otto, hoof media offisier in Limpopo, is alles stil op heirdie stadium. Die polisie  is steeds op die toneel teenwoordig waar hulle ook patrolliewerk doen.

Geen verder gevalle van oproerigheid is aangemeld nie en geen verdagtes is sover gearresteer nie.