Daar is iets wat ek lankal oor peins. Iets wat my baie lankal pla en laat wonder en dit is die rede hoekom mense mekaar nie kan of wil groet nie. Ek noem dit die “Niegroetsindroom”
Snaaks hoeveel mense wat jare lank saamwerk, saamverkeer en mekaar goed ken, mekaar nie kan of wil groet as die ander een nie eerste groet nie. Dan groet niemand nie.
Dit gebeur ook baie dat in plaas daarvan om mekaar te groet, kyk ons weg as ons mekaar sien sodat ons nie hoef te groet nie. Is ons so behep met ons eie ego’s dat ons nie eerste wil groet nie?
Het die mooie Thabazimbi dan verval in ‘n onvriendelike en koue gemeenskap soos so baie ander plekke? Die probleem met hierdie soort van houding is dat dit deursyfer na ons kinders toe en word later ‘n algemene praktyk. Ons doen dit soms sonder om daaroor te dink en ons sien dit orals. My oorlede pa het altyd vir my gesê dat dit goeie maniere is om ander mense eerste en met die hand te groet.
Ek het in 2002 na Thabazimbi toe verhuis en was dadelik beïndruk met die mooiheid van die dorp. Terselfde tyd het Thabazimbi my ook herinner aan die televisie reeks van ouds, “Kooperasiestories”, want die mense het my so baie laat dink aan Mietie, Veldsman en die liewe ou Genis, wat altyd op die sypaadjie gestaan en mense beskinner het, veral nuwe intrekkers in die dorp! Dit was lagwekkend en het my verlief laat raak op Thabazimbi, so veel so dat ek dit nie sal oorweeg om weg te trek nie.
Dit was en is nog steeds vir my ‘n absolute voorreg om in die Bosveld te kan bly. Ek het ook die voorreg gehad om op een van die mooiste Platinamyne te kon werk, waar ek na tien wonderlike jare my diens met Anglo American voltooi het en afgetree het.
Terwyl ek daar gewerk het, was dit vir my opmerklik dat ‘n nuwe werknemer as ‘n indringer beskou word. Ek het toe besluit om almal wat ek in aanraking mee gekom het, te groet al het ek hom of haar nie geken nie.
Ek is snaaks aangekyk, maar dit was verbasend om te sien hoe verskrik mense gelyk het toe hulle gegroet of op hulle name genoem was. Dit was vir my baie bevredigend om ‘n verskil in iemand se lewe, op ‘n dag, te kon maak, al was dit net vir ‘n sekonde of twee. Ek het baie vriende so ontmoet. ‘n Mens se eie naam is seker tog die mooiste geluid wat ‘n mens kan hoor, en dit laat ‘n mens sommer goed voel teenoor die ander person.
Waarom groet ons mekaar nie spontaan nie, al is dit net vir die lekker daarvan en al het die ander persoon ons nie eerste gegroet nie? Dit kan en sal ‘n verskil in iemand se lewe maak.
Ek het maar net gewonder………..
* Met vergunning van oom Dee
