Klagtes by internasionale sportliggame oor regering se kwotadruk

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Suid-Afrikaanse sportliggame gemaan dat hy amptelike klagtes by internasionale sportliggame sal indien teen enige Suid-Afrikaanse sportfederasie wat voor die regering se druk swig om streng rassekwotas in te stel. AfriForum se waarskuwing volg kort na die minister van sport, Fikile Mbalula, aangedui het dat die land se nasionale spanne ‘n 60-40 kwotabeleid moet toepas, waarvolgens 60% van die spelers swart moet wees.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, verbied byna alle internasionale sportliggame se regulasies enige vorm van rassediskriminasie en regeringsinmenging in sport. Kriel het daarop gewys dat hierdie verbod op rassediskriminasie ondubbelsinnig verwoord word in Internasionale Olimpiese Komitee se Olimpiese Handves, wat van toepassing is op die meeste sportsoorte, sowel as die regulasies van onder meer die Internasionale Rugbyraad, Internasionale Krieketraad en die Internasionale Netbalfederasie.

“AfriForum sal nie stilsit en toekyk hoe jong mense se drome en sportloopbane vernietig word deur rasbehepte politici en sportadministrateurs nie. Ons sal daarom geen koste en moeite ontsien om by elke internasionale sportliggaam te gaan veg teen die blatante diskriminasie in Suid-Afrikaanse sport nie,” het Kriel bygevoeg.

Kriel het daarop gewys dat AfriForum ten gunste van sportontwikkeling is, sodat almal die geleentheid kan kry om aan sport deel te neem? Rassekwota-beleid dra volgens Kriel egter nie daartoe by om nuwe spelers te onwikkel nie en benadeel talentvolle sportsterre. “Talentvolle swart spelers word deur kwotas benadeel omdat die geldigheid van hulle opname in die spanne voortdurend onder verdenking is, terwyl kwotas ook talentvolle jong wit spelers van geleenthede ontneem,” het Kriel bygevoeg.

Volgens Kriel gaan AfriForum binnekort ‘n omvattende veldtog teen rassekwotas in SA sport loods en doen AfriForum se regspan reeds voorbereidings om klagtes teen sportsoorte in te dien wat tans kwotavoorskrifte toepas.

Want to Receive Weekly Kwevoel Updates in Email?

We don’t spam! Read our privacy policy for more info.