Adder in die boesem

Week 46 – 15 November 2013

Kommentaar deur die redakteur, Pieter Coetzee:

 

Die meeste Afrikaners wat voor 1990 gebore is, het nogal redelik kerkvas grootgeword. Al was die kerklike bywoning in die latere jare nie so goed nie, het almal tog geweet hoe die Here, volgens die ou testament, Sy volk gestraf het vir hul losbandige en afvallige lewe.

Die eerste waar hierdie leringe erg in Suid-Afrika ingeskop het was kort na die 2009 resessie toe regstellende aksie, blanke armoede, werkverliese en kleiner bonuses ‘n realiteit vir die wit bevolking geword het. Hy het dit gevoel aan sy bas, aan sy beursie, aan sy verwarde kinders wat orals begin leeglê het met geen opsie vir ‘n toekomstige beroep weens rassekwotas vir toelating tot opleidingsinstitute en universiteite en selfs werkgeleenthede.

Die gebruik van dwelms, selfs op laerskoolvlak, het die norm eerder as die uitsondering geword en die ouer garde het begin skuldig voel oor hul tiendes wat hulle nie meer so geredelik aan die kerk gegee het nie. Kerkbywoning het begin styg om net tog nie verder gestraf te word nie.

Natuurlik was daar ‘n verskeidenheid van ou en nuwe kerke wat hulle deure oop gehou het om die mense na die evangelie terug te roep en mense tot die evangelie te bekeer. Die mens is mos in sonde gebore daarom is dit in sy sondige natuur om af te dwaal en verdien hy die straf wat hy tans in oormaat ervaar. Mens hoef maar net deur die dorp te ry om te sien hoe die Evangeliese en Gospel kerke deesdae baie meer is as die tradisionele kerke waarmee die ouer garde groot geword het. In Vierdelaan Thabazimbi is daar selfs ‘n kerk wat in die uitdryf van demone spesialiseer.

Die mensdom is opsoek na ‘n vernuwing en verligting van hul huidige situasie. Die oplossing is maklik: Deur jou verlosser te bind met jou opoffering om net vir hom te lewe, sal jy ryklik beloon word, ‘n verskynsel wêrledwyd onder baie gelowige gemeenskappe wat voel dat hulle swaar trek aan die lewe. Dit ontneem jou beslis nie van jou verantwoordelikheid om jou stem by die stembus uit te bring nie.

Die ANC het hierdie swaai na die “Evangelie” ook duidelik waargeneem. In Thabazimbi besoek die burgemeester en haar mede ANC raadslede reeds geruime tyd die kerke. Hoekom? Die antwoord is beslis om politieke redes. ‘n Toegewyde lidmaat besoek sy eie gemeente en val nie tussen kerke rond nie.

Die grootste adder in die boesem is egter prominente ANC lede wat met ‘n blatante verkiesingsfoefie na die wit Afrikaners probeer deurdring. Hieronder tel die onlangse bywoning van ‘n Gospel byeenkoms, bestaande hoofsaaklik uit wit Afrikaners, waar die mense in Afrikaans toegespreek word en ‘n duidelike beroep op dié mense om tog hulle samewerking te gee. Hoekom? Is dit om die Afrikaner se godsdiens te gebruik om te bewys dat die staat en kerk wel hand aan hand kan gaan. Dit, die één ding wat apartheid deur die jare aan die gang gehou het met die kerke wat regverdiging aan die apartheidsregeringsbeleid verleen het, en baie daarna daaroor gebieg het. Is ons weereens oppad hierheen? Is daar weer ‘n adder wat in die boesem gekoester word omdat ons bang is vir die toekoms? In dieselfde asem word daar tydens ‘n ander vergadering in ‘n swart gebied na die boere (le bhuru) verwys as ‘n veragtelike minderheidsgroep wat nooit weer inspraak tot die regering moet hê nie.

Niemand gaan jou lot verander behalwe jyself nie. Sorg dus dat jy registreer vir die volgende verkiesing, bring jou stem uit by die stembus en draai die adder se nek om.

 

Want to Receive Weekly Kwevoel Updates in Email?

We don’t spam! Read our privacy policy for more info.