Dis planttyd vir die ou Bielies!
Mnr. Philippie de Beer, voorsitter van TLU SA Noord, het lede en alle belangstellendes herinner dat dit nou tyd is om die aanplantings te doen vir die jaarlikse Goliat van Gat pampoen-groei kompetisie.
Mnr. De Beer het gesê dat die heerlike kompetisie vir almal is. Klein en groot, kinders en grootmense, oumas en oupas. Solank jy ‘n 3.3 m2 stukkie grond beskikbaar het, kan jy die pitte plant.
Die ‘professionele’ kwekers plant een pit begin September, weer twee begin Oktober en weer een begin November. Dit is nou om voorsiening te maak vir die onvoorsiene …. Die gewone kwekers plant al vier pitte gelyk, een vir die wurm, een wat sommer net gaan vrek, een wat sy bes gaan doen om te groei en een wat die wenner gaan lewer!!!
Voornemende Goliat van Gat groeiers moet weet dat daar ‘n baie spesiale metode is om die ou grotes te plant en dan na hulle om te sien. Meer inligting kan verkry word en ‘n volledige ‘resep’ is beskikbaar om enige voornemende pampoen kweker in ‘n japtrap touwys te maak. As mens egter kyk na die grootte van Stilbaai se pampoene elke jaar, blyk die wenresep sanderige grond en seelug te wees…
Mnr. de Beer het gesê dat al die CVO skole genader is om ook deel te neem aan 2014 se kompetisie en hy nooi alle ander skole ook uit om hul slag te probeer wys met die kweek van hierdie goliats!
Mnr. Gert van Deventer, verlede jaar se wenner het weer met die louere weggestap in 2013 toe sy pampoen die skaal laat tiep het op 402,5 kg tydens die Goliat van Gat Pampoenfees in Stilbaai op 30 Maart 2013. (Sien foto aangeheg – verkry vanaf Suid-Kaap Forum argief) http://www.suidkaapforum.com/default.aspx
Die Nasionale kompetisie groei jaarliks en beloof om weer baie aandag te trek. Die doelwit van die kompetisie is om op ‘n vrolike manier vir verbruikers te wys dat boere en landbouers noodsaaklik is vir voedselsekerheid. Die persone wat in die verlede van die pampoene geplant het, sal weet hoe moeilik dit is om pampoene te plant en veral, die klein pampoentjie te versorg totdat hulle in een van die ou grotes ontwikkel.
Mnr. de Beer het alle vorige en alle voornemende pampoen kwekers gevra om die Streekkantoor (015 – 293 9804) te skakel om van die pitte in die hande te kry. Hy het gesê dat die opbrengs vir liefdadigheid geskenk gaan word.
Goliat van Gat 2013 – 402-5kg.

