SAMWU ontwrig raadsvergadering

THABAZIMBI – ‘n Spesiale raadsvergadering vir die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteitsraadslede is op Maandag 7 Oktober deur lede van SAMWU ontwrig, nadat verteenwoordigers van dié unie, by die raadsaal ingeloop het en geweier het om die verrigtinge te verlaat.

Na wat berig word het SAMWU (South African Municipal Workers Union) vooraf toestemming gevra om die spesiale raadsvergadering by te woon, maar is daar nie gehoor daaraan gegee nie. Lede van SAMWU het reeds vanaf 11:00 buite die raadsaal ‘n protesaksie gehou om juis druk te plaas op die raadslede vir die goedkeuring van die implementering van plasing van personeel in die voorgestelde organogram. Die lede van SAMWU het die vergadering vir ‘n tydperk van 10 minute ontwrig toe hulle die raadsaal binne gekom het en nie die speaker se versoek gehoorsaam om die raadsaal te verlaat nie. Die speaker het die munisipale bestuurder versoek om met die lede te praat, nadat hulle die raadsaal verlaat het, het die vergadering weer voortgegaan.

Alhoewel die voorgestelde organogram plek maak vir heelwat nuwe werksgeleenthede, word die onvoltooide organogram gesien as onvoldoende en wou die helfte van die raadslede teenwoordig dit nie implementeer nie. DA-raadslid Franco Loots het die speaker gevra dat die raadslede hul stem per geslote brief moet uitbring, maar sy het dit van die hand gewys. Tien raadslede het vir die implementering van die organogram gestem, terwyl tien hul stem daarteen getoon het. Die speaker het die beslissende stem gehad en het gestem vir die implementering daarvan.

Die raadslede het egter hul misnoeë uitgespreek teenoor die manier waarop daar opgetree is om die SAMWU lede uit die vergadering te verwyder. Volgens protokol moes hulle die polisie inroep en die vergadering verdaag, maar dit is nie gedoen nie.

Na afloop van die raadsvergadering was daar ‘n luide toejuiging deur die SAMWU lede.