THABAZIMBI –‘n Moontlike oplossing met betrekking tot die stortingsterrein is deur die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit aan AgriForum voorgelê. Dit volg op probleme wat met die bedryf en instandhouding van die Thabazimbi asgate ondervind word.
Morné Mostert, AfriForum se organiseerder vir Limpopo sê dat die munisipaliteit ‘n tender vir die bestuur en onderhoud van die munisipale stortingsterreine geadverteer het. Die diensverskaffer sal met ingang van 1 Augustus 2013 aangestel word.
Volgens die mediaverklaring deur AgriForum het die munisipaliteit aangedui dat die diensverskaffer ‘n terreinbestuursplan sal moet opstel, waarin die besoedeling op die terrein aandag sal kry. Volgens Julius, hoof van omgewingsake by AfriForum, is AfriForum steeds bekommerd omdat die munisipaliteit nie ‘n afvalbestuursplan het nie, soos wat die wet vereis.
AfriForum is in kennis gestel dat daar tans ‘n diensverskaffer by die terrein is, wat aangestel is om die situasie te beheer totdat ‘n formele aanstelling gemaak kan word.
Volgens Johan Barkenhuizen, voorsitter van AfriForum se Thabazimbi-tak, verwelkom die gemeenskap oplossings vir besoedeling. “Daar is verskeie faktore wat omgewingsbesoedeling veroorsaak en gesondheidsgevare inhou, en ons verwelkom die munisipaliteit se voorstel om die situasie reg te stel,” sê Barkenhuizen. Volgens hom sal AfriForum steeds die situasie monitor.
