Editorial

Piesangkoninkryk – ala Zupta styl

Week 20 – 17 May 2013

Kommentaar deur die Redakteur, Pieter Coetzee:

Die kroon is nie ver van Suid-Afrika nie, want die koning is oppad. Dat Zuma sy oog op hierdie kroon het is beslis nie meer ‘n onwerklikheid nie, veral as mens kyk na die GuptaGate-sage wat ‘n paar weke gelede homself in Suid-Afrika ontvou het. Verskeie sondebokke is uitgewys en selfs omkoopgeld is blykbaar in die gedrang. Almal weet tog, omkoop en korrupsie is deel van enige swart Afrika leier se “kultuur”*.

Slegs ‘n opperse diktator of koning beskik oor die mag om die polisie, die staatsdiens en weermag tot sy eie voordeel en die van sy begunstigdes aan te wend, sonder om sy onderskeie ministers hieroor in te lig.

Kwêvoël het reeds by verskeie geleenthede kommentaar gelewer oor hierdie absolute koninklike onaantasbaarheid wat Zuma homself toeëien. Die geheimhoudingwetgewing, wat deur die parlement gestoomroller is, is ongelukkig ‘n bietjie laat vir hierdie diplomatieke verleentheid waarin hy die Suid-Afrikaanse demokrasie gedompel het.

Wie sou nou kon dink dat hierdie einste wetgewing, wat op veral die media afgedwing is, die ANC as die opperste bedrieërs van demokrasie aan die lig sou bring?

Saam met die Zuma-koninkryk word alles wat in die handves van menseregte vervat is, asook die beste grondwet wat diskriminasie teen enige persoon verwerp, ongedaan gemaak. Indien hy besluit dat vrouens geen reg het nie, sal dit so geskied. As hy besluit dat stamgebonde rassime en diskriminasie teen enige persoon, ongeag sy velkleur, toelaatbaar is, sal dit so geskied.

As jou vriende voorkeurbehandeling ontvang, bokant die gewone burgers beteken dit net een ding: Jy kyk na jou eie belange vir geldelike gewin en stel dit bokant die belange van die mense wat die belasting betaal om jou absurde regering aan bewind te hou.

Niemand hou daarvan om in toue te staan en soos ‘n krimineel behandel te word by ons lughawens en boonop persoonlik deursoek te word vir iets wat jy dalk onwettig die land inbring nie. Dit, teenoor die feit dat jou persoonlike vriende met hul bagasie die land mag binnekom, nogal deur ‘n hoogs-sensitiewe militêre vliegveld, en daarby afkomstig is van ‘n land wat die grootste uitvoerders van die dwelm Mandrax is, sonder dat hulle bagasie deursoek word of enige verklaring aan ‘n doeane-beampte gedoen word aangaande die duur geskenke wat vir die bruidspaar die land ingebring is nie.

Om alles wettig te hou stuur jy maar ‘n paar doeane-beamptes na die ekslusiewe vakansie-oord waar hulle jolyt hou, terwyl daar wetgewing bestaan om al die besoekers as onwettige immigrante te arresteer of om beslag te lê op die vliegtuig wat onregmatig op ‘n militêre basis sy vrag afgelaai het. Dit nogal deur vlieëniers wat nie oor die nodige toestemming beskik het om die Suid-Afrikaanse lugruim te betree nie.

En die sondebokke? ‘n Goue handdruk en ‘n meevallertjie om te sorg dat hy/sy nooit weer hoef te werk nie, is dalk die mees moontlike oplossing om hulle teen snaakse vrae te beskerm en uit die oog van die publiek te hou.

Ongelukkig het jy wat van die stembus af weggebly het, jou deel bygedra dat hierdie regering nie ‘n demokrasie verteenwoordig nie, maar ‘n outokrasie is wat weens ‘n demokratiese meerderheid aan bewind gekom het.

 

*Kultuur/Culture = “the culture of a specified group of people who has grown in civilization, embracing a collective set of values which they want to explore by advancing their culture through education.”