Community

Inbrekers weg met handwapens

THABAZIMBI – ‘n Digitale handwapenkluis, ‘n skootrekenaar en juwele is op Dinsdag, 21 Mei helder oordag vanuit ‘n huis in Tweedelaan gebuit.

Volgens die SAPD het die inbrekers toegang tot die huis verkry nadat hulle die agterdeur stukkend geskop het.

Die eienaar van die huis het na werk op die toneel afgekom en die polisie ontbied. Sy kluis was volgens wetlike standaard vasgemaak, maar dit het steeds nie die misdadigers verhoed om die kluis uit te breek nie.

“Ek het in die kombuis ingestap en die skade aan die agterdeur gesien. Ek het yskoud geword,” het hy aan Kwêvoël gesê.

Dit is die tweede keer in twee jaar dat daar by sy tuiste ingebreek word. Volgens hom is dié inbraak egter ietwat raaiselagtig, aangesien daar ‘n ander waardevolle item naby die skootrekenaar gestaan het, wat die inbrekers nie gesteel het nie.

Die skootrekenaar het dertien jaar se werk bevat en die horlosie wat gesteel is, was ‘n sentimentele geskenk wat hy by sy werk ontvang het. “Dit is goed wat jy nie kan vervang nie.”

‘n Beloning word uitgereik vir inligting wat sal lei tot die opsporing van die gesteelde goedere. Kontak die ondersoekbeampte, Inspekteur Kganyago 0762935552.