13 renosters in 2 weke

THABAZIMBI – Dertien renosters is in ‘n periode van twee weke in die Thabazimbi-distrik vir hul horings afgemaai.

Hierdie skokkende getal renosters sluit kalfies, spog bulle sowel as ou koeie in. Sommige van hierdie renosters word deur hul eienaars as hul kinders beskou en was mak genoeg om uit die boer se hand te vreet, wat die brutale slagting van dié prag diere soveel erger maak.

Volgens Jako “Pottie” Potgieter van die plaaslike STTU-groep (specialised tracking and tactical unit), is stropery tans ‘n reuse probleem in ons area. Hy maan renosterboere om hul sekuriteit op te skerp en enige verdagte aktiwiteit by die SAPD te rapporteer.

Voorts moedig Pottie boere aan om gebruik te maak van hul eenheid of die polisie, sodra ‘n renosterkarkas gevind word, en om nie te probeer om op eie stoom die stropers aan te keer nie. Toneelbewaring is van kardinale belang wanneer spoorsnyers ingeroep word.

Kontak Pottie by 083 824 9400 vir meer inligting rakende die STTU se werksaamhede.