Kanker eis sesjarige
THABAZIMBI – ‘n Geliefde jong kleuter van Thabazimbi, is op 14 Augustus, na ‘n stryd teen limfklierkanker, in Unitas Hospitaal te Pretoria oorlede.
Johann Casper Lemmer (6) is die seun van Pieter en Lydia Lemmer, jarelange inwoners van Thabazimbi. Johann was ‘n Graad R leerling van Bosveld Akademie Privaatskool en was vroeër in die SAVF Wippie en Snippie Kleuterskool.
Johann is in April 2012 met limfklierkanker gediagnoseer, waarna hy deurentyd behandeling ontvang het en was meermale by die hospitaal as by sy huis.
Reach for a Dream, ‘n liefdadigheidsorganisasie wat kankerlyers se drome probeer waarmaak, het vir Johann ‘n fiets gegee. Hy was verknog aan dié besonderse fiets en het die laaste keer wat hy uit die hospitaal ontslaan was, op die fiets by die hospitaal uitgery.
Johann sal onthou word vir sy liefdevolle, vriendelike geaardheid. Hy het ‘n liefde vir groot trekkers, trokke en motorfietse gehad en was ‘n reuse Cheetah Rugby ondersteuner.
Sy familie en skoolmaats gaan hom baie mis. Hy laat sy ouers, sy sussies Gretha (7) en Francisca (1) en grootouers na. Johann se begrafnis was op 20 Augustus 2012 vanuit die AP Kerk Thabazimbi.
Sy familie betuig graag dank aan vriende, familie en die gemeenskap van Thabazimbi vir al die ondersteuning, oproepe, sms’e en belangstelling.
Die Bosveld betreur klein Johann Casper Lemmer (6) se heengaan.