Skrywer uit eie geledere
THABAZIMBI – ‘n Oud-leerling van Laerskool Thabazimbi, en tans weereens inwoner van Thabazimbi, Henning Janse van Vuuren, het sy loots spanningsverhaal, “Kruitvat” die lig laat sien.
Henning het sy gr 7 aan die einde van 1982 aan die Laerskool Thabazimbi voltooi. Hier is sy liefde vir Afrikaans gekweek en die fondasies vir die skryf van goeie opstelle gelê.
In 1983 verhuis sy ouers na Pretoria en hy begin sy gr 8-jaar by die Hoërskool Oos-Moot, waar mnr Faan Hanekom, Frikkie Meyer se oud-skoolhoof, dieselfde jaar die leisels by Oos-Moot oorgeneem het. Met matriekvrystelling aan die einde van 1987, begin hy as regs-student aan die Universiteit van Pretoria [Tukkies] waar hy sy B-Iur graad behaal.
Hy word ‘n offisier by die Suid-Afrikaanse Polisie waar hy as regsverteenwoordiger optree, terwyl hy ook, deur UNISA, homself as prokureur bekwaam. Vir ‘n paar jaar staan hy sy pos as prokureur vol, maar die passie vir skryf word ‘n roepstem wat hom inspireer om ‘n kursus in die Kreatiewe Skryfkuns en Joernalistiek te voltooi.
Etlike kortverhale uit sy pen, in Afrikaans sowel as Engels, word op LitNet gepubliseer. As joernalis, skryf hy ook ‘n aantal artikels vir die Laevelder in Nelspruit.
Henning verhuis terug na Thabazimbi en in 2009/2010, in die Tafelberg/Sanlam Jeugromankompetisie, bevind hy hom onder die top-vyf en ontvang ‘n geldelike bydrae van die Departement van Kuns en Kultuur, om sodoende sy eerste spanningsverhaal, Kruitvat, die lig te laat sien.
Amazon.com bied aan hom die geleentheid om die boek op Kimble te publiseer en is ook in slapband deur hulle uitgegee.