Entertainment

Die 28ste Thabazimbi Wild en Toerisme Expo – ‘n Fees propvol pret en plesier vir almal

THABAZIMBI – Die jaarlikse Thaba Expo vind hierdie jaar plaas op 29 en 30 April en besoekers kan staatmaak op ‘n aksie-belaaide familie naweek by Thaba Park in Thabazimbi.

Soos vorige jare beloof dit om ‘n feestelik affêre te wees met hope top kunstenaars en opwindende aktiwiteite om na uit te sien. Musiekliefhebbers kan uitsien na nuwe sterre, sowel as ou gunstelinge soos Radio Kalahari Orkes, Gerhard Steyn, Valiant Swart, Karen Zoid, Nianell en Izak Davel. Hierdie topmusiekante is egter slegs een van die ongelooflike trekpleisters wat die naweek by Thaba Park sal bied. Daar is ‘n wye verskeidenheid gehalte stalletjies om deur te snuffel – iets waarvoor die Thabazimbi Wild en Toerisme Expo al bekendheid verwerf het .

Daar is ook ‘n hele lys speletjies en kompetisies vir oud sowel as jonk om aan deel te neem. Die wat oud genoeg is om ‘n skerp mes vas te hou kan gerus inskryf vir die uiters gewilde bok-afslag kompetisie. En dan vir die wat effens jonger is, is daar ‘n verskeidenheid prettige aktiwiteite soos mallemeuleritte, waterballe, reksprong (bungee trampoline jump) en vir die wat hul  moed wil toets, is daar selfs ‘n verfbal (paintball) skietbaan.

Die potjiekoskompetisie is weer terug na vele versoeke uit die gemeenskap – so kyk uit vir volgende week se koerant vir meer inligting aangaande inskrywings.

Meer inligting kan op die internet verkry word by www.thabaexpo.co.za. Die programme sal ook binnekort daarop beskikbaar wees. ?Vir verdere informasie oor die Thabazimbi Wild en Toerisme Expo kontak asseblief Michelle Swart by michelle@hilltoplive.co.za of Tanya Vorster by tanya@hilltoplive.co.za.

Telefoniese navrae kan gedoen word deur 012 327 6163/6601 te skakel.