Ons en die senior Laufse was Vrydagaand weer by die Kunstegrot. Ons het gaan luister na Emanuel Escorsio. Miskien moet ek eerder se – ons het gaan kyk en luister na Emanuel Escorsio – want die man is tuis op ‘n verhoog.
Ek hoor al my dogters – Ag, Ja. Die ou man word ook nou al seniel. Kom aan Manuel Escorsio – nog Boer nog Portugees. Ek hoor al my kleinkinders – Manuel wie? En, buitendien, Huisgenoot het nou die dag ‘n storie oor hom gehad – glad nie positief nie. Die laaste paar minute voor pouse – vertel hy ons van sy moelikgeite. Dat sy vrou gesê het of hy kom terug na haar toe of sy sal hom vernietig.
Die Kunstegrot bied net sitplek aan so 60 – 70 mense. Dis eintlik ‘n lekker plek. Almal sit naby die verhogie en dit lyk vir mens dat die ouens wat daar optree direk vir jou kyk. Die akoestiek is baie goed. Ons het nou al onder andere hier geluister na Chris Chameleon, Die Grafsteen Sangers, Eric Nobbs en nou Manuel. Mari het ook al daar vir ons gesing. Die wat nog nie daar was nie mis iets spesiaals. Mens kry ‘n glasie sherrie by die deur.
Afgesien dat die man ‘n wonderlike stem het wat duidelik met baie oefening en tegniek-bemeestering gepaard gaan, het hy die manier om goed te kan vertolk.
Daar’s deesdae ‘n groot klomp nuwe Afrikaanse stemme – en dis goed so. Maar, so baie van hulle het net mooi stemme – het nie geleer om te vertolk nie. Escorsio is ‘n meester. Hy vertolk gevoel. Jy verlang saam met hom na Steve se plaas; jy droom saam oor die wit duifie; selfs Kurt se Meisie, word jou Meisie!
Hy sing Stille Nag. In Afrikaans. In Engels. In Portugees. In Sotho. Hy sing moderne Afrikaanse liedjies. Hy sing Italiaanse goed. Finiculi Finicula, La Paloma, Valencia.
En dis heel besonders – want hy interpreteer. Hy vertolk. Hy leef hom in die goed in. Kyk, moderne sangers en sangeresse wil mos nie regtig mekaar se goed sing nie. Hulle sing liewer hulle eie goed of goed wat spesiaal vir hulle geskryf is. Manuel doen dit met groot oorgawe en gemak. Hy is duidelik nie bang vir vergelykings nie. Vir my gevoel kom hy in elk geval die beste daarvan af.
Hy vertel hy het al meer as 4700 konserte gehou. Hy is vanjaar 61. En daai ervaring kom helder deur.
Ek het ‘n braai gemis om daar te wees. Ek is bly ek was by die konsert. Dit was lekker. Doen jouself ‘n guns. As hy in die omgewing is, gaan luister.
Ten slotte; waar kry mens deesdae nog ‘n kunstenaar wat onbeskaamd sê hy is ‘n Christen en sy vertoning afsluit met ‘n gebed? Die Boere-Porra doen dit.
‘n Glasie sjerrie op Manuel Escorsio. En nog een op die Kunste Grot.
Gert Coetzer
