Ons lesers skryf – Medisyne telkens vermis tussen kliniek en hospitaal

By die provinsiale hospitaal in Thabazimbi word daar van die pasiënte verwag om eers na die kliniek toe te gaan as jy jou kroniese medisyne voorskrif vir 6 maande wil hê voor jy die dokter by die hospitaal kan sien.

Jy gaan deur die hele proses, en dan moet jy maandeliks jou medikasie by die kliniek gaan afhaal. Maar elke keer as mens by die kliniek kom is die medikasie net nie daar nie. Dan moet jy weer bo by die hospitaal gaan sit en weereens R20 betaal. Ek probeer nou al vir die 4 de week my medisyne kry maar nee, dit is nie by die kliniek nie. Verlede maand het die kliniek my voorskrif vir my gegee en direk na die apteek by die hospitaal gestuur. Toe ek by die apteek kom, baklei die man wat in die apteek werk  met my en vra vir my hoekom gee hulle vir my die voorskrif. Ek sê toe vir hom my medisyne is nie by die kliniek nie. Hy beweer toe dat hy die medikasie kliniek toe stuur, hy weet nie wat die kliniek daarmee doen nie. Boonop weier hy toe om my voorskrif vir my terug te gee sodat ek dit terug kan vat na die kliniek. Teen 16:00 party dae sluit hulle die apteek bo by die hospitaal en word daar vir jou gesê om die volgende dag terug te kom.

Ek het op 11/10/2010 en weer 19/10/2010  kliniek toe gegaan vir my medikasie en wragtig, dit is alweer nie daar nie. Ek het ook vir Nicolene Bosch geskakel en die probleem aan haar verduidelik. Ek het al klagtes ingedien by die hospitaal, maar net niemand gee aandag aan die probleem nie.

‘n Mens kan ook nie die medikasie altyd by die apteek self gaan koop nie, want jy het ‘n voorskrif nodig, wat doen die ou mense wat nie fondse het om ‘n privaat dokter te sien vir ‘n voorskrif nie.

Daar is so baie mense wie se medikasie nie  na die kliniek gestuur word nie, hetsy wit of swart. Ek wil ‘n versoek doen aan almal wie se medikasie nie by die kliniek is nie, om vir Nicolene Bosch by 0846976639 te skakel en die probleem aan haar voor te lê.

Ek weet nie wat ons gaan doen nie maar dit is pateties! Ek dink nie in my leeftyd gaan dit ooit reg kom nie. Die mense wat daar werk het geen werkstrots, werk volgens afrika-tyd, en is hulle ook vir 80% van die dag glad nie produktief nie en staan rond, gesels en drink tee. Tog betaal die regering hul salarisse met die belastingbetalers se geld.

Susan Botha – Thabazimbi