Interkleuter Atletiekdag ‘n weghol sukses

Die Mon key van die Monkeynastics en sy makkers het die kleinspan laat opwarm voordat daar weggespring is met die Interkleuter Atletiekdag.

THABAZIMBI – Vyf verskillende kleuterskole, asook ‘n hele aantal tuissorg kleuters het die Interkleuter Atletiekdag wat deur SmartBrain Kidz op Saterdag 9 Oktober aangebied is, bygewoon.

Die baan het bestaan uit ses items, naamlik swartmotorfietsresies, Monkeynastics items, kortafstande en ‘n Jelly Tots item, laasgenoemde is deur Rhonda Müller, wat dié ontwikkelingsprogram aanbied, behartig. Elke deelnemende skool is voorgestel deur ‘n spesifieke kleur, SmartBrain Kidz het groen hempies gedra, terwyl Ladies en Laaities helder uitgestaan het in hul oranje gewaad. Max Eloff het swart hempies aangehad terwyl Thabazimbi Tjokkerskool deur blou verteenwoordig is. Gedurende die optog kon die atlete hul energieryke krete aan die toeskouers oordra, terwyl die mammas en pappas entoesiasties op die kantlyn foto’s geneem het van hul toekomstige goue-medalje wennertjies. Ladies en Laaities Kleuterskool is volgende jaar aan die beurt om die Interkleuter Atletiekdag aan te bied.

SmartBrain Kidz bedank graag hul borge wat die dag moontlik gemaak het, veral Bertie Joubert Eiendomme, Van Heerden Apteek en Dreiers Hardeware Thabazimbi. ‘n Spesiale dank gaan aan mnr Koos Venter, skoolhoof van Laerskool Thabazimbi, wat die sportveld beskikbaar gestel het vir hierdie besonderse sportdaggie.