THABAZIMBI – Dit lyk of die lang naweek en skoolvakansie baie gholfspelers weggelok het. Vrydag se pretdag was maar swak ondersteun. Die vierbal alliansie is egter gewen deur Piet Venter, Tiaan Bronkhorst, Bernie Gous en Wimpie van Vuuren met 108 punte. Saterdag was dit IPS waar almal van ‘n nul voorgee punte moes aanteken en dan hulle amptelike voorgee by die punte tel. Sarel Marais (32+12=44), Billy Pring (31+5=36), Bernie Gous (22+13=35) en Alta Venter (19+16=35) was die wenners.
Heinrich Penzhorn, een van ons belowende juniors is tans in die Kaap waar hy op verskeie spogbane as een van ses Gauteng Noord onder 12’s deelneem.
Vrydag 1 Oktober is dit weer Interaksie Gholf wat deur Eagle Mountain Spur geborg word. Saterdag 2 Oktober is dan seker weer Slagspel, waar die gelukkige R500 lede trekking ook gedoen gaan word. Donderdag 7 Oktober speel die Sages op Zebula.
Die klub se groot kompetisie die Bielie van die Bosveld is oor die naweek van 9 en 10 Oktober. Dit gaan ‘n groot byeenkoms wees met pryse ter waarde van R12 000. Inskrywings sluit die 4de Oktober en daar gaan nie plek vir laat inskrywings wees nie.
Die gereelde Sonsakker wat elke Woensdag gespeel word, word deur Pick n Pay geborg. Dit bly steeds een van die populêrste kompetisies.
Die baan is nou droog en die turf-krake kan maklik ‘n bal insluk. Die setperke is egter pragtig. Ag en dan met die lekker warm somer hier bly dit maar ‘n plesier en voorreg om so ‘n wonderlike spel op so ‘n pragtige baan teen ‘n bekostigbare prys te kan speel. Betaal dus asseblief jou jaargeld nou, vandag nog.
