
LEEUPOORT – Boeremusiekliefhebbers kan hierdie naweek groot makietie te wagte wees met die jaarlikse boerefees wat op Saterdag 4 September by die Woonwapark gehou word ter viering van hierdie populêre musiek.
Die program skop af om 09:00 met bekendes soos Nico van Rensburg en Manie Bodenstein wat gaan optree, sowel as gaskunstenaar Gert van Tonder van Groep 2. Nuwelinge op Leeupoort is Jannie Cilliers: Saagspeler, Hekkie de la Guerre – meester op kitaar, Die Groot 5 (konsertina spelers) en die Vastrap Boereorkes. Die Naboomspruit Vastrappers orkes, wat hierdie jaar vir hul tweede keer in Leeupoort sal optree, bestaan uit: Jannie Bronkhorst (konsertina), Vic Lottering (ritme kitaar), Piet Roos (kitaar), Denis Marais (baskitaar) en Steve de Villiers (tromme). Die orkes is gevorm in Naboomspruit met die aankoms van Oom Jannie Bronkhorst van Edenvale gedurende 2007 en het alreeds twee keer aan die Boeremusiek Orkes kompetisie deelgeneem waarvan hul een keer ‘n derdeplek verower het. Die orkes speel gereeld vir gemeenskapsfunksies soos vir kerke, skole, tehuise vir bejaardes asook die Magrietjies kanker pasiente ondersteuningsgroep.
Die fees word geopen deur Ere-President van SA Boeremusiekgilde, Pierre Retief, ‘n baie bekende konsertinaspeler van die Kaap, en tree ook deurlopend op. Die dansskoene kan beslis afgestof word en baie eet- en drinkgoed sal te koop aangebied word. Op Sondag sal Kassie Kasselman gewyde musiek met sy konsertina speel tydens die dankdiens op Leeupoort. Die ingang beloop R40 vir volwassenes, R30 vir Boeremusiek Gilde-lede en kinders is gratis.

