Gewilde skiet kompetisie Saterdag

THABAZIMBI – Die gewilde streekskietkompetisie, die Luiperd skietkompetisie, word môre weer aangebied op die Koos Cronjé skietbaan net buite Thabazimbi. Die kompetisie het sy ontstaan gehad het in die dae toe die Kommando stelsel nog bestaan het.

Skuts van oor die hele ou Transvaal neem jaarliks deel aan die kompetisie wat deur SAJ&WV, Thabazimbi Skietklub en GNCRA aangebied word. Aanvanklik is die kompetisie aangebied as ’n Ope Gevegswapen-skietkompetisie. Die kompetisie word volgens Diens-skietreëls gehou.

Met die sluiting van die Kommando in 2006 is besluit dat hierdie gewilde kompetisie behoue moet bly. Die kompetisie word onder beheer van GNCRA (Gauteng Noord Combat Rifle Association) aangebied en sal ook kwalifiseer as ’n GNCRA Liga skietkompetisie vir 2010.

Die volgende kategorieë sal beslis word nl. X-Klas, A-Klas en B-Klas. Nie minder as tien wedstryde word gehou nie. Daar onder resorteer 100m Macarena, 100m snel, 200m knak, 300m snel (1 vertoning van die skyf vir 30 sekondes om 10 rondtes vanuit die lê-houding te vuur) en 300m allegaartjie.

Laasgenoemde bestaan uit een vertoning van 10 sekondes waarna teikens gewissel sal word vir 15 sekondes om 10 rondtes vanuit die lê-houding te vuur. R4 wapens sal vir die kompetisie gebruik word en daar sal gepoog word om addisionele dienswapens vir oud-lede beskikbaar te stel.
Inskrywingsfooie beloop R150 per skut wat ook ’n braai pakkie en bykosse  na afloop van die kompetisie sal insluit. Span inskrywings kan gedoen word teen R40 addisioneel per span van 4 skuts. Medaljes word beskikbaar gestel vir wedstrydkombinasies in elke kategorie asook vir dag-totale, dames, juniors, veterane, meesters en spanne.

Akkomodasie-fasiliteite is beskikbaar. Belangstellendes kan vir majoor Evert Kleynhans skakel by tel. 083 279 3716 of koshuisvader Johan van Rensburg by 083 279 3716 of 014 777 1583. Karavaanstaanplekke is ook beskikbaar. Kontak vir Rykie May by tel. 082 620 4379.

Tobie Lombard