Hierdie is ’n lelike brief, want ek is regtig net KEELVOL vir die lisensiekantoor en sy personeel, want dit help nie eers om te probeer vriendelik wees nie.
Ek sukkel nou al van Oktober 2009 af om ’n kode B8 (voertuig) lisensie te kry. Ek het toe op daardie stadium ’n leerlinglisensie gehad wat op 15 Mei 2010 sou verval.
In Oktober 2009 was hulle al vol vir bestuurslisensies tot einde Desember 2009. Januarie se uitgawe van die Kwêvoël, is daar deurgegee aan die publiek dat die bestuurslisensie afsprake weer sal oopmaak op Donderdag 4 Februarie 2010. Ek, ewe getrou, glo die informasie wat die lisensiekantoor deurgegee het aan Die Kwêvoël en gaan staan die vierde al van HALF 5 die oggend daar om nou eers my naampie in hul boek te skryf om dan die volgende dag my vorm te kry. Om uiteindelik ’n afspraak te kan maak, maar toe ek en my vriendin die vierde daar sit en die personeel begin oopsluit, kom ons agter dat hulle al klaar begin het om die afsprake te maak.
Een van die swart verkeersbeamptes, David het vir ons met ’n houding gesê dat hy nie omgee wat in Die Kwêvoël staan nie, want hy lees dit in elk geval nie.Die afsprake is toe tot April en ons moet maar op ’n volgende stadium weer kom.
So bel ek van Maart af op ’n daaglikse basis en elke keer word daar dieselfde verskoning gegee:”Ons weet nie wanneer ons oopmaak nie” of “Kom einde van die maand” . Ongelukkig as jy einde van die maand daar kom is hul weer toe of nog nie oop nie en mense wat werk en graag ’n bromponie leerling lisensie wil kry, om net wettiglik te kan rondry, kan nie elke maand ’n dag net afkry nie.
So bel ek weer in middel Junie 2010 rond om te hoor wanneer hul eendag mens kan help en soos gewoonlik word daar vir mens gesê:” Ons is vol tot Augustus, probeer om in Augustus te kom.” Toe hoor ek in hierdie week dat dit OOK WEER wolhaarstories is, want daar kon mense hul name in die boek geskryf het om vorms te ontvang op Maandag 19 Julie. Dit is mos nie Augustus nie?
Nou probeer ek ook my naam in die boek te kry op Woensdag 14 Julie 2010, maar nee, daar word vir my man gesê (indien daar enige aandag aan mens gegee word), dat hy nie in die boek mag kyk nie en hy mag nie my naam inskryf nie. Later daardie selfde middag gaan ’n vriendin, wat klaar haar naam ingeskryf het, om my naam in te skryf, nou word daar ’n ander storie vertel vir haar. Hulle sê vir haar dat net DIREKTE familie namens my mag skryf. So is my man nie nou DIREKTE familie nie?
Toe vra ek nou my pa om op Donderdag 15 Julie my naam in te skryf, want hy is mos nou defetief direkte familie en daar word toe vir hom gesê dat die plek nou vol is. Nou kan hulle ook nie eers ’n volgende datumpie in die boek skryf en mens se naam daar opskryf nie, want hulle weet kamma nie wanneer dit gaan oop wees nie en gee ewe die kantoor se nommer sodat ek kan hoor wanneer dit oop is. ASOF ENIGSINS VIR HULLE SAL GLO?!
So hoekom moet ons Thabazimbiërs so sukkel om wetiglik op die pad te kan wees? Gin wonder mense ry hier sonder lisensies en leerling lisensies nie. En hoekom moet ons nou MOGWASE toe ry om daar ons lisensies te kry en dan ook baie makliker sonder om jou naampie in “die boek” te skryf leerling lisensie afspraak te kry?
Want hier word daar net vir diegene gehelp waarvan daar gehou word en vir die res gee hulle maar net toffies. So baie dankie vir julle goeie en getroue informasie en uitmuntende diens wat julle aan julle mede-Thabazimbiërs bied.
Marlize von Czapiewski (du Plessis)
