Entertainment

Frikkies vermaak met Musical

THABAZIMBI – Die leerders van Hoërskool Frikkie Meyer kan hulself gelukwens met die puik musiekblyspel “Thank you for the Music” wat hulle verlede week op die planke gebring het.
Die begeesterdheid waarmee hulle die produksie aangepak het, was duidelik sigbaar en so ook die feit dat hulle dit beslis geniet het. Rudolph Basson het as aanbieder sy rol puik vertolk en die kontinuïteit in die aanbieding was opvallend met nie ‘n enkele vervelige oomblik nie.
Uiteraard was die afronding nie op dieselfde vlak as die van ‘n Revue nie maar met 200 deelnemers aan hierdie aanbieding het baie kinders die geleentheid gekry om hulle deel ook op die verhoog te doen anders as die kleiner groepie waaruit ‘n Revue-geselskap bestaan.
Met die skyfievertoning op die skerm net langs die verhoog kon almal in die gehoor hul presies terugplaas, dis nou die oueres in die gehoor, na die verskillende tydperke waaruit die liedjies kom.
Heelwat moeite het in die kostuums ingegaan wat baie bygedra het tot ‘n kleurvolle aanbieding. Bewegings is goed gekoriograveer en al die afrigters betrokke kan geluk gewens word met ‘n aanskoulike aanbieding.
Al die items was goed en die “lifts” baie professioneel gedoen. Nooit geweet die jong manne het die krag gehad om die meisies so hoog in die lug op hulle skouers te dra nie.
‘n Paar items het uitgestaan. So was daar die groepie Gr 11 seuns met hulle vertolking van die Pas du Dux uit Swanemeer. Dit het nie net vir lekker vermaak vir die gehoor gesorg nie maar kon mens sien dat hulle nie sommer vir enige uitdaging terugstaan nie.
Net so was daar die “lord of the Dance” uitvoering wat ‘n mens so baie laat terug dink het aan die dae toe ons nog tap dancing lesse by Oom Giela du Toit op dieselfde verhoog gehad het. Die massa slot van “Thank you for the Music” het almal gaande gehad en het die afrigters hulle in die encore daarvan aangesluit.
Dit was ‘n uitstekende verwelkoming vir die nuwe hoof, mnr Colin Chambell, wat die begin van hierdie kwartaal sy pligte as skoolhoof aanvaar het. Hierdie is ‘n duidelike bewys van wat vermag kan word as die kommunikasiekanale tussen, skool, leerlinge en onderwysers in plek is.