Beskuldigdes in hof oor renosters
THABAZIMBI –Die drie beskuldigdes wat in hegtenis geneem is nadat hulle renosters op ‘n wildsplaas buite Thabazimbi gejag het, het op Donderdag 26 Februarie in die hof op Thabazimbi verskyn op klagtes van die jag van beskermende wild.
In nog ‘n hofsaak het twee beskuldigdes wat in Desember in hegtenis geneem is vir die jag van renosters, ook verskyn. Beide sake is uitgestel. Die borgaansoek van die drie beskuldigdes word aangehoor op Donderdag 5 Maart.
Die beskuldigdes is al drie Mosambiekse burgers. Hulle is Arbino Maphosa (30), Samuel Chidzinga (35) en Majuta Sithole (41). Maphosa word verteenwoordig deur Eric Marx en Chidzinga en Sithole het om regshulp aansoek gedoen. Mnr Mashishi is die aanklaer.
Die situasie rondom die afmaai van renosters vir hul horings het sulke afmetings aangeneem dat die Dept van Omgewingsake ‘n memorandum versprei het waarop insette van wildboere ingewag word wat die kontrole oor renosters en hul produkte sal verhoog.
Van die voorstelle in die memorandum is dat geen renosterhoring meer binne Suid-Afrika verkoop mag word nie, dat slegs een permit per jaar per persoon uitgereik sal word vir die jag van renoster, dat natuurbewaarders sover moontlik die jag van renoster moet vergesel en dat geen aparte dele van renoster verkoop mag word voordat permitte daarvoor in orde is nie.’n Vierde voorstel is dat alle renosters, hetsy dood of lewend, geïdentifiseer moet kan word met behulp van mikroskyfies wat in die horing ingeplant word en dat ‘n foto-rekord van die horings gehou moet word.
Kommentaar op die voorstelle moet aan die Dept van Omgewingsake voorgelê word.