Community

Ons lesers skryf: Thabazimbi Munisipaliteit

Brief – G Pretorius

Na 26 jaar vergun ek my nou ook om by wyse van die media my sê te sê.
Geen brief of telefoonoproep aan ons plaaslike Munisipaliteit het nog in al hierdie jare enige vrugte afgewerp nie.
Die grondpad wat voor die nuutgeboude Heuwelkruin uitbreiding verby loop (na my eie en drie ander huisgesinne se huise), is met die groot reën, Februarie 2006, twee tot drie meter diep weggespoel. Jare gelede is daar ‘n patetiese poging aangewend om die pad op te vul, nog voor die reën.
Dit is toe vir ‘n week lank gedoen met klippe, stene en bourommel so groot soos spanspekke. Natuurlik moes ek mense huur om die rotse te kom verwyder sodat ons en die ander minstens by ons huise kon kom. Wie se skuld is dit nou dat ons nie 4×4’s of trekkers het nie?
My R264 wat ek maandeliks moet opdok vir erfbelasting (vir geen dienste), is seker ook niks om oor te kla. Met die maandelikse skenking oor 26 jaar kon die pad al geteer word. Straatligte brand regdeur die naweek in ons dorp in die dag. Sypaadjies word gebou. Die hoof van verkeer kry ‘n swembad.
Waarheen gaan ons inwoners se belastings? Natuurlik sal hierdie skrywe geen raadslid pla nie, want hulle sien net na hulle eie belange om. Om die waarheid te sê is 90% inwoners keelvol (gatvol!). Ons maak seker dat ons name op die Kieserslys kom.