Boeremusiek Gilde Noord Streek hou behoorlik makietie op Leeupoort

LEEUPOORT – Die afgelope naweek het nagenoeg 1,500 mense saamgetrek om die bestaan van boeremusiek te geniet.  Die ou monument ter ere van boeremusiek is weer na 21 jaar heropen en dit met ‘n pragtige nuwe monument.
Vrydagaand is die borge bederf met ‘n braaivleis om die kampvuur terwyl die manne die snare begin warm maak het vir die volgende dag se groot fees.  Die note het tot laat aand die karavaanpark se gaste begin lus maak vir die Saterdag. 
Die kunstenaars (manne, kinders en vroue) het al van vroeg die oggend die feesgangers trakteer op regte boeremusiek styl.  Puik orkeste het opgetree: Zak van Niekerk, Manie Bodenstein, Lieb Bester, Nico van Rensburg, Eddie Edwards, JR Olivier, Cobus Polsen, Bredell Mansorkes, ‘n orkes van Laerskool Krugersdorp – Penkoppe, Hoërskool Monument Orkes, Rooibok Rokkies, Cobus Klopper, Piet le Roux, Fankie Botha en Basie Peens. 
Die klomp het gedans tot skuins voor middernag!
In Julie 1987 het Pieter Bodenstein die idee gekry van ‘n monument ter ere van boeremusiek.  Pieter nooi toe vir Ds Lourens Aucamp na Leeupoort vir ‘n naweek.  Hulle bespreek die idee en besluit om ‘n monument op Leeupoort Vakansiedorp te bou.  Koos Strydom, destydse besturende direkteur van Leeupoort Vakansiedorp, bied toe aan om die oprigtingskoste van die monument te dra.
Na lang gesprekke met ou musikante, onder andere Piet Bester, word besluit dat die baskitaar die instrument is wat altyd met boeremusiek verbind kon word.  Die baskitaar is uit plaat uitgesny deur Karel Rabie van Brits.  Die voetstuk van die monument is gebou deur Lourens Badenhorst en die agtergrond muur deur Willem Roödt.  Op 12 September 1987 (21 jaar gelede) is die monument onthul deur Ds Lourens Aucamp.  Op daardie dag was daar ook ‘n Boeremusiek kompetisie waaraan 6 orkeste onder andere die van Tiny May deelgeneem het.  Die beoordelaars was Bennie Raubenheimer, Lourens Aucamp en Andre Roux.
Willie Mynhardt, nasionale voorsitter van die Boeremusiek Gilde het die voorreg gehad om die nuwe monument in te huldig.  Hy het ook die plaat onthul waarop die name van die persone en instansies aangebring is wat die pragtige monument moontlik gemaak het.  In die toekoms sal die nageslag met trots kan onthou met watter onbaatsugtigheid hul voorouers die kultuur bewaar en uitgebou het.
Verskeie instansies en persone, plaaslike en van omliggende dorpe het ingestaan om die monument daar te stel.
Die beplanningskomitee vir die boeremusiekfeesdag was: Willie Mynhardt (Nasionale Voorsitter – Boeremusiek Gilde), Cassie Nel (Noord-Wes Streek Voorsitter – Boeremusiek Gilde), Pieter Bodenstein (Leeupoort Tak – Boeremusiek Gilde), Ben Vorster (Ontwerp), Madelein le Roux (Argitek), Dawid Krause (Skenking van Terrein), John (Bouer).

Want to Receive Weekly Kwevoel Updates in Email?

We don’t spam! Read our privacy policy for more info.