Haas Das kom na Thabazimbi
THABAZIMBI – “Dit is sesuur en hier volg die nuus gelees deur Haas Das!”. Hierdie woorde sal met nostalgie onthou word deur die “ouer” lede in ons gemeenskap, maar nou sal die jonges ook kennis kan maak met hierdie karakter uit die verlede.
In die laaste week van die skoolkwartaal gaan Haas Das ‘n draai by Laerskool Thabazimbi maak en skoliere sal ‘n kans kry om hom in “lewende lywe” te sien. Meer inligting hieroor sal bekend gemaak word in die Kwêvoël van 13 Junie.
Die aanbieder van hierdie produksie, Dulinda Pieters van Enteractive Productions, sê dat kinderteater sterk groei toon in Suid-Afrika. Sy en haar groep akteurs vat Louise Smit, die skrywer van die Haas Das-verhale, se skepping verhoog toe. Met poppeteater word almal bereik en bekoor, of jy nou een of 100 jaar oud is, sê Dulinda.
Soveel dinge word bereik deur poppeteater, soos om die korrekte Afrikaans te praat, beter te luister en te konsentreer. Volgens Dulinda leer die kinders op hierdie manier ook teateretiket aan en ‘n liefde vir die teater. Allerlei boodskappe word op ‘n prettige manier deur poppeteater aan kinders oorgedra.