Eden, roer die golwe

THABAZIMBI – As daar nou ‘n groep is wat besig is om Suid-Afrika se radiogolwe te roer is dit Eden.
Met vyf nommer een songs, drie Suid-Afrikaanse musiektoekennings en die kroon dra van verlede jaar se beste verkope, Engelse popgroep in Suid-Afrika, insluitend internasionale deelnemers, het Eden daarin geslaag om die harte, gedagtes en emosies van hulle bewonderaars van oraloor te verower.
Hierdie vier treffende lede van Eden het ‘n yslike gevolg opgebou deur hulle gehore eenvoudig weg te blaas met hulle bekoorlike harmonië, lieflike stemme, gatskop roetines, hulle polsende energie en dan natuurlik, hulle tydlose songs.
Die groep se debuutalbum, Point Of No Return, met die titelnommer, “Point Of No Return”, sluit nog nommers soos Promise Me, Baby Baby, You Are The One en hulle mees onlangse treffer, I Got U, in. Met nog ‘n paar singles wat vrygestel gaan word, belowe hierdie album om deur sy Goue status na Platina deur te bars.
Besoekers aan die Thabazimbi Expo gaan Vrydagaand 29 April geleentheid kry om hierdie mooi jong manne in aksie op die verhoog te sien. Solank jy jonk van gees is, sal jy ook hierdie manne se uitmuntende talent en musiektalent kan waardeer. Onthou, jou daaglikse toegangskaartjie tot die Expo bied jou al die beskikbare musiektalent wat die spesifieke dag optree totaal gratis.