Entertainment

Nicholis Louw is GOUD

Nicholis Louw, die opwindendste Suid-Afrikaanse popsensasie in jare, sing in sy treffer hy wil sy baby hê vanaand. Terwyl hy daarvoor hoop, het ‘n ander droom waar geword: Hy’t  goue status behaal! Die beste nuus van alles is dat hy Maandag 2 Mei vanaf 17:00 tot 18:00 die kunstenaar op die verhoog tydens die Thabazimbi Expo gaan wees.
Sy solodebuutalbum My Hart Is Aan Die Brand (Select-Musiek) het pas die verkoopkerf van 35 000 eksemplare verbygesteek. Met dié prestasie vestig  Nicholis hom as een van die land se blinkste nuwe sterre.
“Ek is goud! Het julle gehoor, ek is goud?” het Nicholis oorstelpt gejuig toe dié nuus onlangs in Johannesburg by Select-Musiek se Kerspartytjie vir die media en handelaars bekend gemaak is.
Met liedjies soos: My hart is aan die brand, Ek wil my baby hê vanaand en die splinternuwe treffer Net die een vir my (saam met die smeulende kurwebênd Shine 4) knák hy treffersparades landwyd.
Nicholis is ook ‘n balladevertolker by uitstek en sy vokale vertolking van Mendelssohn se troumars op Die Trouesokkie-album is ‘n musikale juweel.
Hy het ook diep getref met sy gospelvertolking op die album Dankie Heer!.
Nicholis Louw is een van die veelsydigste vertolkers in Suid-Afrikanse musiek. Hy kán immers ook soos gewilde wêreldstingelbêndlatte, gruisstemsterre en Latynse smeulprinse klink. As sessiemusikant, wat sy eiesoortige stempel op internasionale treffers afdruk, is sy stem al oor die vyftig albums benut. Dié talentvolle lat, wat as tjokkertjie pryse met sy orrelspel verower het, is eweneens bedrewe in polspop, rock en romantiese ballades.
Met sy viriele jeug oorrompel hy álmal wat wil luister! En hy sê: “Al wat ek wil hê, is dat elkeen wat my musiek hoor minstens van een song sal hou. Dit is werklik al wat ek vir die toekoms hoop. En, as ek aan die einde terugkyk, is dit wat ek graag sal wil sien. Die Mercedes CL Coupe AMG wat daarmee saam behoort te kom, sal ‘n bonus wees!”