EditorialFeatured

Bestuurslisensies – Frustrasie oor beloftes van kaart-hernuwing

Kaapstad – Die Burgmeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, Raadslid JP Smith, het sy frustrasie uitgespreek oor die voortdurende beloftes wat ontvang word betreffende die uitreiking van nuwe Bestuurder lisensiekaarte.

In ʼn mediaverklaring wys hy daarop dat die Stad se Bestuurslisensie Toetssentrums sedert die begin van die jaar sowat 60 000 aansoeke vir nuwe bestuurslisensies geprosesseer het, waarvan tot op datum nie ʼn enkele kaart vanaf die sentrale Bestuurslisensie Kaart Uitreikings Owerheid in Pretoria terug ontvang is nie.

Volgens die verklaring word daar gereken dat die masjien wat vir die druk van die kaarte gebruik word weereens buite werking is sonder enige aanduiding wanneer die probleem opgelos gaan word.

“Dieselfde probleem is gedurende 2022 ondervind en die situasies het nou na drie jaar niks verander nie,” se Raadslid Smith.

Dit is onaanvaarbaar dat motoriste nou moet ly en die las van hierdie onbevoegdheid moet dra, net-so die Verkeersdienste personeel wat in die verleentheid gestel word.

Raadslid Smith het daarop gewys dat in terme van die Nasionale Pad Verkeerswet, sal vervalde lisensies geldig bly vir ʼn tydperk van drie maande vanaf die vervaldatum indien die aansoek om ʼn nuwe lisensie gedoen is voordat die kaart verval het.

Om hierin te kan voldoen moet die lisensiehouer in besit wees van die verstrykte kaarlisensie asook bewys van betaling aan die plaaslike lisensieowerheid dat daar wel ʼn aansoek om hernuwing gedoen is.

Die probleem ontstaan indien ʼn versekeringseis of aansoek om finansiering vir ʼn motorvoertuig na hierdie tydperk ontvang is en die bestuurslisensie dan ‘ongeldig’ is maar weens die staat se romslomp en onvermoë nog nie deur die kaartdrukker geprosesseer is nie.

Die korttermyn versekeringsooreenkoms stipuleer duidelik dat die voertuig se versekering slegs geldig is solank die goedgekeurde bestuurder oor ʼn geldige bestuurskisensie beskik.

Die versekering gaan ook nie die koste van die ander voertuig dra indien daar ʼn eis van die ander voertuig se versekering teen jou versekering ingestel word nie.

Jou kanse om finansiering te bekom is ook skraal indien jou bestuurslisensie as aansoeker en bestuurder van die voertuig verval het.

Indien die lisensie nog nie terug ontvang is nie moet die lisensiehouer voordat die drie maande verstryk het aansoek doen vir ‘n tydelike lisensie wat deur die plaaslike lisensieowerheid uitgereik word en vir ʼn tydperk van ses maande geldig sal wees.

Dit beteken dat buiten die ongrief wat deur die staat veroorsaak is, word die motoriste nou gedwing om die addissionele bedrag van R45 vir die uitreiking hiervan te dra aangesien hierdie tydelike lisensies nie gratis uitgereik word nie.
Buiten dit is daar die tyd wat verlore gaan om weereens in die tou te gaan staan by die lisensieowerheid om hiervoor aansoek te doen.

In die mediaverklaring word daarop gewys dat hierdie bepaling nie op nuwe bestuurslisensies van toepassing is nie aangesien aanoekers outomaties met ʼn tydelike bestuurslisensie uitgereik word na die suksesvolle voltooiing van die lisensietoets.

Kwêvoël het reeds by ʼn vorige geleenthede ʼn berig geplaas oor die onbeholpenheid van die staat om lisensiekaarte te kan lewer aangesien die drukmasjien wat hiervoor gebruik word reeds gedurende 2009 vervang moes word.

Google gerus die vorige berig hieroor by: Nuwe Lisensiekaartdrukker steeds op ʼn kortlys kwevoel koerant en kry verdere agtergrond oor die tebakel met die kaartdrukker masjien.
Of
besoek die tuisblad by www.kwevoel.co.za en tik – Lisensiekaartdrukker
by die soekfunksie verskaf op die tuisblad.

Berig en Kommentaar deur Pieter Coetzee – Redakteur: Kwêvoël (sedert 1983)