Werkloosheid en misdaad: Twee kante van dieselfde munt
TLU SA sê in ʼn mediaverklaring dat die instansie met groot kommer kennis geneem het van die jongste Statistiek SA Kwartaal-Arbeidsmagopname vir die tweede kwartaal van 2024.
Hierdie verslag beklemtoon weereens die ontstellende vlakke van werkloosheid in ons land, wat direk tot die toename in misdaad bydra.
Die TLU SA sê hy staan vas in die oortuiging dat werkloosheid en misdaad onafskeidbaar verbind is.
‘Sukses in enige ekonomie word gedryf deur ‘n gesonde en florerende privaatsektor. Dit beteken dat diensmaatskappye, fabrieke en landbou-instansies winsgewend moet wees om belasting te betaal en by te dra tot die nasionale ekonomie.’
‘Die staat se rol is om ‘n veilige omgewing te skep met betroubare infrastruktuur, konstante kragvoorsiening en goeie vervoergeriewe.
Wanneer hierdie voorwaardes nagekom word, raak dit aantreklik vir besighede om te belê en te floreer.’
Tans is die situasie egter ver van hierdie ideaal.
Die ANC se transformasiebeleid, gekombineer met kaderontplooiing en SEB, het gelei tot aanstellings gebaseer op politieke bande en ras eerder as kundigheid.
Dit het beleggersvertroue ondermyn en baie besighede het hul beleggings onttrek of na veiliger oorde verskuif.
Entrepreneurs verlaat die land in soek na beter geleenthede, wat lei tot stadige ekonomiese groei en ’n afname in werksgeleenthede.
‘Hierdie negatiewe tendens is ’n direkte gevolg van die ANC se beleid,’ luidens die verklaring.
‘Hoe bou ons ’n toekoms in sulke omstandighede?’
Die president kondig gereeld aan dat werkgeleenthede geskep sal word, maar die werklike fokus moet op ekonomiese groei wees.
Om dit te bereik, moet die regering ophou inmeng met arbeidsregulasies en eiendomsregte wat onsekerheid skep.
Die privaatsektor moet toegelaat word om in ’n vertrouenswaardige omgewing te funksioneer, waar beleggings beskerm word en nie sonder vergoeding onteien word nie.
TLU SA spreek die hoop uit dat die nuwe Regering van Nasionale Eenheid ‘n positiewe verskil sal maak, alhoewel ons steeds gebuk gaan onder die nalatenskap van die ANC se beleid.
Dit sal tyd neem voordat nuwe beleide ’n merkbare verandering bring.
Die verband tussen werkloosheid en misdaad is soos ‘n tydbom. Sosiale toelaes alleen kan werklose mense nie permanent aan die gang hou nie.
Hierdie situasie, volgens die VLU SA, is die gevolg van die regering se siek beleid.
Die afgelope 30 jaar se beleid het die land se mense benadeel en ekonomiese geleenthede vernietig. Werkloosheid en misdaad is gewortel in die ANC se beleidsomgewing.
Daar moet dringend gekyk word na arbeidswetgewing en die toepassing daarvan, insluitend die minimumloon.
Deur die minimumloon af te skaf, kan markkragte die arbeidsmark reguleer en meer mense in diens neem.
Vakbonde verteenwoordig tans net diegene wat werk het – daar is niemand wat opstaan vir die werklose mense nie.
TLU SA dring aan op beleidsveranderinge wat werklike ekonomiese groei kan fasiliteer.
Slegs deur hierdie benadering kan werkloosheid verminder word en kan die misdaadkrisis aangepak word.
TLU SA sê verder dat hulle steeds verbind bly tot hul missie om die landbou en breër ekonomie te versterk tot voordeel van al ons mense.