EntertainmentFeatured

Plaasjapie – Juanita steeds gewild in Thaba

Juanita du Plessis het getoon dat sy steeds haar aanhangers kan vermaak toe sy na bykans 20 jaar weereens haar verskyning op ’n verhoog in Thabazimbi gemaak het. Dit was natuurlik Vrydagaand 25 Februarie by Plaasjapie Restaurant.

Al die tafels was vol en sy het ’n feestelike ontvangs gehad van die oorwegend vroulike gehoor wat haar behoorlik op die hande gedra het.

Juanita beskik steeds oor dieselfde charme waarmee sy haar gehoor nog altyd met die dinge wat die hartsnare roer en die liefde aanwakker bekoor. Vir almal was daar iets nuuts om saam te geniet met hierdie vertoning.

Selfs Skarumba het ook weereens sy plek op haar trefferslys bevestig. Soms het die mense gestaan en saam met haar hande in die lug saamgesing terwyl ander so ’n bietjie onder hul geliefde se skouer ingekruip het. Dat almal haar geniet het was duidelik sigbaar.

Die volgende kunstenaar kom sommer moreaand, Vrydag 4 Maart, aan die beurt wanneer Deon Groot die verhoog by Plaasjapie gaan betree. Deon het sy musiekloopbaan in 2007 afgeskop toe hy ’n karaokekompetisie in Centurion, waar hy steeds woon, gewen het.

Hy is veral bekend vir sy Afrikaanse liedjies wat in 2016 deur die platemaatskappy Sony Musiek uitgereik is. Gee my oorBietjie, Lepellê, As ek net jou man kon wees en Is die koeël deur die kerk was onder andere landswye treffers. Verdere treffers met die Universal Musiekgroep in 2019 was met liedjies soos “Wyn”, “Hemelpoorte, “Ek Sweer” en “Prikkel”.

Met ʼn terugslag in ʼn persoonlike verhouding gebruik Deon sy musiek om ʼn boodskap van hoop oor te bring na sy gehore en wil die boodskap tuisbring dat mens altyd weer moet opstaan en weer ʼn uitdaging moet aanpak.

Kom geniet ‘n heerlike aand saam met Deon Groot. Toegang is R100 vir volwassenes en hoërskoolleerlinge terwyl laerskoolleerlinge R50 betaal. Daar gaan ‘n Gin Bar wees asook heerlike Prego Rolls te koop.

Plaasjapie bring nie alleen top Afrikaanse kunstenaars hier na Thabazimbi nie maar is ’n uitstekende familierestaurant wat in die behoeftes van die hele gesin voorsien met hul unieke braaigeregte op die spyskaart.

Plaasjapie se volledige kroeg beskik ook oor ’n groot verskeidenheid van uitgesoekte wyne.