CommunityFeatured

ATKV en SAVF trakteer Bosveld Oord inwoners

Die ATKV Thabazimbi-tak en die plaaslike Suid-Afrikaanse Vroue Federasie (SAVF) het Donderdag 4 November kragte saamgesnoer en die inwoners van Bosveld Oord in Thabazimbi met ’n heerlike braaivleis onthaal.

Die ATKV het vir die finansiering gesorg terwyl die SAVF die arbeidskrag verleen het. Net na 10 uur is die vuur aan die brand gesteek om solank kole te maak. Teen 11 uur was al die gaste in die gemeenskaplike sitkamer waar die geleentheid geopen is en Rita Volschenk, voorsitter van die ATKV Thabazimbi-tak, haar boodskap gelewer het.

Die kleuters van Allo Kykie kleuterskool het daarna hul vertoning gelewer wat bestaan het uit ’n gesamentlike voordrag en verskeie opbouende liedjies wat hulle gesing het. Verdere kleur is aan die liedjies verleen met slaginstrumente en danspassies met veelkleurige linte. Die geesdrif waarmee die kleuters dit uitgevoer het, is duidelik bewys van die positiewe invloed van vroeë basies musiekonderrig met danspassies en slaginstrumente.

Dit was duidelik dat die ouer mense hierdie kontak en vertoning met die kleuters baie geniet het waarna daar gesellig saam gekuier is.

Teen 12 uur was die vleis gereed en kon die inwoners heerlik smul aan die heerlike varktjops en wors wat saam met pap-en-sous asook slaai bedien is. Elke inwoners teenwoordig het ook ’n vrugtesappie ontvang wat hulle saam met die ete kon geniet.