DA: Hoofstuk 9-Teenkorrupsiekommissie vir hoëvlak-korrupsie-ondersoek
Die DA en Accountability Now het tydens ’n gesamentlike perskonferensie bekendgemaak dat nuwe wetgewing voorgelê sal word vir die skep van ’n nuwe, onafhanklike Hoofstuk 9-instelling genaamd die Teenkorrupsiekommissie.
Volgens die DA Skaduminister van justisie en korrektiewe dienste, Adv Glynnis Breytenbach LP, gaan twee wetsontwerpe vir privaatlede voorgelê word – die een stel wysigings aan artikels 181, 193 en 194 van die Grondwet voor om die nuwe Hoofstuk 9-instelling tot stand te bring en die ander is wetgewing wat die funksies, bevoegdhede en samestelling van die Kommissie sal reguleer.
Die hoofdoel van die voorgestelde Teenkorrupsiekommissie is om onder meer korrupsiesake op hoë vlak te ondersoek. Volgens Adv Breytenbach is ’n Onafhanklike instelling is lankal nodig, aangesien die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (Valke) nie voldoende onafhanklik is nie en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) tans onder sistemiese uitdagings gebuk gaan.
Die oprigting van ’n Teenkorrupsiekommissie sal ’n groot las van veral die NVG se skouers lig. Dit sal die NVG in staat stel om op die vervolging van misdaad te konsentreer, aangesien die Kommissie slegs sal fokus op grootskaalse korrupsie soos volgens sy wetlike mandaat gedefinieer.
Dit sal ’n vinniger, doeltreffender en meer effektiewe manier bied om grootskaalse korrupsie hok te slaan, veral omdat dit nie effektief binne huidige bestaande en oorbelaste strukture hanteer kan word nie.
Die Teenkorrupsiekommissie sal ook die mandaat hê om openbare en private instellings te adviseer oor doeltreffende maatreëls om korrupsie te voorkom; die publiek bewus te maak van die gevare van korrupsie; en afhangende van die bevindings wat gemaak is, die nodige aanbevelings aan die toepaslike owerheid doen.
Hoewel dié voorstel van die DA om ’n nuwe, onafhanklike Hoofstuk 9-instelling te skep drasties is, is dit nodig omdat die ANC-regering nie in staat was om ’n werklik onafhanklike korrupsiebestrydingsorganisasie op hoë vlak stig nie.
Die DA doen ’n beroep op alle burgers en partye regoor die politieke spektrum om hulle te ondersteun in hierdie belangrike poging.